bannernw_0102bannernw_0202bannernw_0302bannernw_0402bannernw_0502bannernw_0602

Lees gerus ons nuutste nuusbrief op hierdie bladsy.

U kan ook die vorige nuusbriewe onderaan in die tabel vind

Druk asb F5 om te sorg dat jy die nuutste veranderinge laai!

 

nuus
swatch_5

 Gegroet uit die Nuwe Wynkelder,

Wat 'n wonderlike tyd het ek en Hetta nie die afgelope week van bediening in Bothaville en Bloemfontein gehad nie! Dankie aan al God se mense wat ons tyd daar by julle so aangenaam gemaak het! Mag die Here self die Woord-saad wat mense bedien het self seën met 'n hondervoudige oes.

Welkom aan al die nuwe lede wat vir die eerste keer hierdie nuusbriefie met Woord ontvang. Mag die Here ook hierdie bediening aan julle lewens ryklik seën. En dankie vir die geleentheid om julle so te mag bedien.

Ek wil ook sommer van hierdie geleentheid gebruik maak om so 'n bietjie voorbrand te maak vir die volgende groot bedieningsgeleentheid waar ek en Hetta van Vrydag, 24 September tot Sondag, 27 September, daar in Calvinia God se mense van Matjiesfontein, Sutherland, Middelpos en Calvinia en omgewing op 'n kamp gaan bedien. As jy belangstel om dit by te woon, of van iemand weet wat graag hierdie kamp wil bywoon, kontak my of vir Johan de Klerk (tel. 0273-412412).

Bid asb nog saam met ons vir die nodige fondse om my nuutste boek, DIE STORIE AGTER DIE STORIE, oor die gebeure in die Nuwe Testamentiese gemeentes, te publiseer. Ons kort R46 000.

Geniet vandag se Woord.

Groetnis

Christo en Hetta

Dag 36 – Jesus was van 'n ander wêreld

In Joh. 18:36 sê Jesus: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie… As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

Dit verander 'n mens se lewe om 'n slag dinge deur God se bril en van Sy kant af te sien. Dit verander jou verhouding met Hom, jouself en al jou broers en susters in die ekklesia van Jesus. Met ander woorde, dit verander jou prentjie van die “kerk” dramaties!

Ons het reeds gesien dat die “kerk” of ekklesia die “bruid” van Jesus Christus en die “tuiste” of “woonplek” van die lewende God op Planeet Aarde is.

Die Bybel gebruik natuurlik nog ander woord-prentjies om die ekklesia of gelowige volgelinge van Jesus Christus mee te beskryf.

Een van die mees aangrypende vir my is die beskrywing dat ons 'n “splinternuwe mense-spesie” is! Hoor hoe sê 2 Kor. 5:17 dit: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

Dink vir 'n oomblik hieroor na.

Stel jou voor 'n wese van elders in die ruimte van 'n totaal ander onbekende wêreld kom Planeet Aarde toe. Hy word gebore as seuntjie, manlik, maar tog totaal verskillende as ons. Hy word gebore as 'n Jood, maar in werklikheid is Hy glad nie 'n Jood nie. Hy is totaal uniek; 'n nuwe mense-spesie, as jy wil.

Hy lyk soos ons en dit is waar al die verwarring vandaan kom, want dit verwar mense om te dink dat hy net 'n gewone mens is.

Dit is ook die rede waarom hulle hom nie eintlik verstaan nie, al praat Hy Hebreeus soos hulle. Daarom verras en verbaas hy heeltyd die mense om hom deur wat hy doen en sê. Selfs as 'n twaalfjarige seuntjie het hy die leiers in die gemeenskap totaal verstom deur die dinge wat uit sy mond gekom het.

Toe hy 'n bietjie ouer as dertig was, begin hy in die openbaar rondbeweeg met 'n groepie volgelinge wat hom soos leerlinge volg. Elke nou en dan spreek hy letterlik honderde mense toe en doen hy die mees merkwaardige dinge tussen hulle.

Hy gesels met die mense oor die beginsels waarop dinge in sy wêreld funksioneer en wys vir die mense prakties hoe dit werk deur sy eie optrede.

Heeltyd sê hy dat hy deur 'n ander stem gelei word wat vir hom sê wat hy moet sê en doen.

Hy verduidelik vir die mense dat hierdie stem uit die wêreld is waar hy oorspronklik vandaan kom.

Hy sê selfs dat hy deur dit wat hy hoor, gevoed word. Dit is letterlik soos kos wat hy “eet”, wat hom “voed”!

Al hierdie dinge veroorsaak natuurlik dat die mense hom glad nie verstaan nie en dat hy nog meer 'n totale misterie vir hulle is.

Verder is sy boodskap baie uitdagend. Dit daag die status quo van sy dag uit, asook die Jode se verstaan van die Ou Testament.

Sy boodskap raak ook ander dimensies van die lewe: polities, sosiaal en godsdienstig.

Wat verder interessant is, is dat hy meestal hom by die gemarginaliseerdes van die samelewing geskaar het. Mense soos die armes, die onderdruktes en die verwerptes. Hy het saam met hulle gekuier en gemeng, wat natuurlik totaal “onvanpas” was in sy dag, want dit was groepe mense waarmee die “beskaafdes” in daardie tyd glad nie gemeng het nie.

Sy boodskap was vir almal; alle groepe en alle lae van die samelewing was daarby ingesluit en is daardeur uitgedaag.

Dit is ook te verstane dat sy boodskap en optrede gou veroorsaak het dat hy vyande gemaak het. Sy boodskap het immers die rykes en outoriteitsfigure van sy dag uitgedaag.

Daarom het hierdie mense byna elke dag daar tussen die skares gewees om hom op die een of ander wyse te probeer uitvang.

Hulle het hom selfs probeer etiketteer soos hulle gewoonlik met die mense om hulle gedoen het, maar Hy was so anders. Hy het eenvoudig nie ingepas in enige van die boksies waarin hulle gewoonlik mense gesit het nie.

Een van die dinge wat hom so anders gemaak het, was juis hierdie ding wat hy oor homself gesê het. Naamlik, dat hy volgehou het dat hy nie oorspronklik van Planeet Aarde af gekom het nie. Ja, dat hy volgehou het dat hy van elders hierheen gestuur is!

Volgende keer gesels ons verder.


 

Die vorige nuusbriewe

Naam

n Profetiese woord vir die nuwe seisoen

n Profetiese woord vir  2010 - deel 2

n Profetiese woord vir  2010 - deel 3

n Profetiese woord vir  2010 -deel 4

Ons troudag

God soek 'n woonplek

Lewende stene

Die tabernakel van Moses

Die tabernakel van Dawid

DIE GEBEURE RONDOM DIE KRUISIGING EN DIE OPSTANDING

n Nuwe liggaam vir Jesus

God kom tabernakel tussen ons

n Stad van God tussen die mense

Die habitat vir die volgelinge van Jesus

Kom uit Egipte uit

Babilon in ons midde

Nuwe wynsakke

Bou ons sinagoges en ons eie huise

As ons klaar gedetoks het

Die wildernis

So lyk die bouterrein vir die ekklesia van Jesus

Sy beeldraers

Eet van die Boom van die Lewe

Dag 32 - Eet van My

Dag 33 - Jesus leef nou in my

Dag 34 - God bou met goud, pêrels en kosbare klip

Dag 35 - Hier is plek vir silwer ook