bannernw_0102bannernw_0202bannernw_0302bannernw_0402bannernw_0502bannernw_0602

Ons geloofstorie

Christo en Hetta op die bankie - kleiner

Christo vertel:

Ek het op 10 Oktober 1969 tot bekering gekom in ‘n tipies Afrikaanssprekende huisgesin.

Toe het ek teologie gaan swot en in 1978 klaar gemaak met my aanvanklike teologiese studies.  Daarna het die Here my vir meer as 14 jaar as predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk gebruik om Sy kinders en andere te bedien.

Maar toe begin die Here my met “nuwe wyn”-waarhede bedien:

- Eers oor die Heilige Gees, Sy werk en Sy gawes

- Toe oor die doop as ‘n bediening net aan gelowiges

- En later het die Here met my begin gesels oor Sy Liggaam, en dit wat ons “kerke” noem

In 1993 daag die Here my en my gesin uit om in geloof Hom te vertrou om ons wyer as net die Nederduitse Gereformeerde Kerk binne Sy Liggaam te gebruik.  En dan baie spesifiek om vernuwing te bedien aan hoofsaaklik Afrikaanssprekende mense met ‘n tipies tradisionele Afrikaanse agtergrond.

Die groep mense waarop die Here my spesifiek laat fokus het, was mense wat nie meer heeltemal gemaklik inpas in die tipies tradisioneel kerklike opset nie, of dit nou NG was, of selfs Pinkster of Charismaties. 

Sedert einde 1993 gebruik die Here my op hierdie manier in Ned Geref-gemeentes, VGK-gemeentes, Pinkster- en Charismatiese gemeentes, en vernuwingsgemeentes en huisgroepe om vernuwing en eenheid te fasiliteer.

En steeds is die Here ook met my persoonlik in die proses besig.  Elke dag ontdek ek hoe my eie “teologie” verander.  So is die Here tans besig om met my te praat oor eenheid in Sy Liggaam.  Beter as ooit verstaan ek dat al hierdie gepraat van ons van “kerk” en “kerke” nie werklik Bybels is nie, want Jesus se Liggaam is een.  Ek verstaan deesdae ook soveel beter dat Sy Liggaam uit verskillende geloofsfamilies (ekklesia of gemeentes) van verskillende groottes bestaan, maar dat hulle in werklikheid deel is van een groot familie.  Hulle moet net leer om as ‘n effektiewe groter familie-eenheid te funksioneer. 

In die proses het die Here my ook begin wys hoe die bedieningspanne van Ef 4:11 tot 16 bedoel is om, soos ‘n effektiewe immune- of bloedsomloop-stelsel, die Liggaam van Jesus toe te rus vir hulle bediening as enkelinge, as families onder mekaar, en in die wyer gemeenskap.

Hierdie webblad en sy inhoud het juis ontstaan as deel van my bediening aan die wyer Liggaam van Jesus.  En dan spesifiek my bediening onder Afrikaanssprekende gelowiges wat dwarsoor die węreld woon en ‘n behoefte het aan die Woord in Afrikaans.

Sedert die jaar 2000 het ek die voorreg om duisende Afrikaanssprekendes węreldwyd weekliks via epos te bedien met ‘n weeklikse nuusbriefie waarin ek “nuwe wyn”-waarhede aan hulle bedien.

Miskien stel jy ook belang daarin om dit te ontvang.  Kontak my asb per epos en dan sit ek jou graag op my adreslys.

Omdat daar ook verder ‘n geweldige behoefte is aan goeie Bybelse Afrikaanse vernuwende materiaal, sal jy ook Nuutste bottels “wyn” op die rak op hierdie webblad vind waar jy ‘n goeie idee kan kry van sommige van die beskikbare materiaal

Soek enige Bybelwoord of Bybelgedeelte op



BibleGateway.com