Die koms van die Koninkryk is ʼn dinamiese, daaglikse gebeure en beweging wat plaasvind

Groei Groei

Ons bid elke dag vir die koms van die Koninkryk van die hemel om hier op aarde ook volledig te kom as ons in die Ons Vader-gebed bid: ”Laat U Koninkryk kom!”.

Ons Koning het ons belowe dat as ons dinge “in Sy Naam” bid, of anders gesê, “wat Hy vir ons geleer en gesê het ons moet voor vra”, dan gebeur daardie dinge!

Met ander woorde: as ons bid dat Sy Naam geheilig sal word; of dat Sy Koninkryk sal kom; of dat Sy wil sal geskied… hier op aarde soos in die hemel… dan gaan en sal dit gebeur!

Die Koninkryk van God is dus reeds besig om hier op aarde stelselmatig te gebeur! Dit is nou reeds besig om in te beweeg en dinge en mense te verander rondom ons! Ons moet net met die regte bril op rondom ons begin kyk. Dan gaan ons dit verseker sien gebeur!

Dit is ook een van die redes waarom God die Heilige Gees self hier op aarde nou besig is.

Soos daar reg aan die begin, soos jy in Genesis 1 kan lees, “sit God die Gees as’t ware op hierdie “eier”, “hierdie nuwe skepping-realiteit”, of anders gesê: die Koninkryk van die hemel wat nou ook hier op aarde gekom het, om dit “uit te broei” en oral te laat deurbreek!

Soos daar in die begin, gebeur “hierdie nuwe skepping”, hierdie dinamiese, bonatuurlike deurbreek van die Koninkryk van die hemel hier op aarde deur die bonatuurlike werk van die Heilige Gees!

God self is die Outeur, die Inisiatiefnemer, die Dryfveer, die Skepper en Waar-maker daarvan!

Niks gaan dit stuit nie! Daarom is daar oral in God se Woord beloftes en toekoms-gerigte uitsprake dat dit besig is om te gebeur en dat dit op die een of ander tydstip klaar en afgehandel gaan wees.

Kom ek haal ten slotte vir jou  een van die belangrikste van hierdie beloftes vir jou hier aan.

Kom ek sê net eers waarom ek dit wil doen. Ek is so bewus van ʼn negatiwiteit en ʼn amper-magteloosheid wat by baie gelowiges hulle denke en hulle daaglikse doen en late beheer. Al waaroor hulle kan praat is oor die gerugte van oorloë, die negatiewe tekens van die eindtyd, en ook die sogenaamde “tekens van ʼn wegraping van gelowiges uit hierdie wêreld uit” wat hulle handel en wandel en hulle denke totaal oorheers.

Daar is by die meeste van hulle geen verwagting om iets positiefs, iets van ʼn deurbreek van God se Koninkryk van die hemel en die positiewe realiteite daarvan in hulle eie lewe en rondom hulle te sien nie! Wat hulle betref, is hulle op pad hemel toe! Hulle tasse is gepak en hulle staan gereed op die stasie om hierdie trein te vat wat hulle uit hierdie verskriklik stukkende wêreld gaan wegruk na die hemel en hulle hemelse tuiste met sy strate van goud!

Nou ja, ek gaan nie weer iets sê oor hierdie teologie van die wegraping nie.

Ek wil jou net sê dat as ons met hierdie negatiewe bril kyk na wat rondom ons aan die gebeur is dag vir dag, kan ons nie met erns elke dag bid en dit bedoel nie, “Ons Vader, Laat U Naam geheilig word! Laat U koninkryk kom, en laat U wil geskied!”

Daarom, kom luister wat belowe ons Koning en Here vir ons hieroor! Luister na wat Hy sê en kies weer opnuut om dit te glo.

Een van die meer volledige beloftes en gedeeltes hieroor vind ons daar in 1 Kor. 15. Kom ek haal so ʼn paar verse hieroor daar van vers 19 af aan:

“As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.

Aangesien die dood deur ʼn mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ʼn mens gekom.

Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

Maar daar is ʼn volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort.

Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het.

Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.

Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Daar staan immers geskrywe: "Alles het Hy aan Hom onderwerp." Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is.

Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.”

Wie ore het, laat hom hoor wat die Gees deur hierdie Woord aan God se mense sê!