Die week wat die geskiedenis verander het

Hierdie is die nuutste weergawe van hierdie belangrike artikel wat ek oor daardie lewensbelangrike gebeure van daardie week, van die Sondag voor die Opstanding van Jesus, tot en met Sy Opstanding op daardie Eerste Dag van die week, wat dus die volgende Sondag in daardie week sou wees, gebeur het.

Wat die datering van die gebeure volgens die Joodse Kalender betref, is my datering van hierdie gebeure presies dieselfde as in my vorige artikels. Maar let daarop dat my nuutste datering volgens die Gregoriese kalender wat ons vandag volg, ietwat verskil van my vorige berekeninge in die verband.

Kom ons sit net eers ʼn paar vaste punte vanuit die Skrif en spesifiek uit die Evangelies en ander Nuwe Testamentiese boeke oor hierdie gebeure hier neer.

  • Op 14 Nissan moes die lam vir die PASGA (“pesach” in Hebreeus) geslag word (Eks. 12:6). Dit moet dan voorberei word om daardie selfde aand, dus op 15 Nissan, wat van 18h00 tot 18h00, ons tyd, gereken word, saam met die res van die PASGA-ete geëet word. (Kyk Eks. 12:8).
  • Hierdie gebeure is, volgens die Ou Testamentiese Tora-wetgewing, voorafgegaan deur ʼn reeks gebeure in die verband. Soos die gebeure op die 10de Nissan, (vier dae voor die tyd dus), wat ʼn lam sonder gebrek, gekies en eenkant gesit moes word om as Paaslam geslag te word.
  • Die dag van die PASGA-ete self word, volgens die TORA-wetgewing, as ʼn SABBAT gereken, ongeag op watter dag dit sou plaasvind. (Kyk Eks. 12 en Eks. 23:4-8)
  • Vanuit die Evangelies en ander Nuwe Testamentiese gedeeltes weet ons die volgende gegewens: Jesus word in verskeie gedeeltes die Lam genoem. (Kyk bv., Joh. 1:29,36; 1 Pet. 1:19; Op. 5:6,8,12,13;6:1,9,12,16; 7:9,10,14,17; 8:1; 12:11; 13:8; 14:1,4; 15:3; 17:14; 19:7,9; 21:9,14,22,23,27; 22:1,3)
  • Uit die Evangelie-vertellinge weet ons dat Jesus op die dag van Sy kruisiging, 15h00, gesterf het. Omdat die volgende dag as ʼn Sabbat gereken is (want die eerste dag van die Pesach-fees, met sy ete daardie aand, is ook as ʼn heilige dag gereken), moes Sy Liggaam daardie middag nog van die kruis verwyder word en moes Hy begrawe word in die graf wat Josef van Armitea beskikbaar gestel het.
  • Dan weet ons ook dat Jesus self geprofeteer het, op grond van Ou Testamentiese profesieë oor die Messias, dat Hy drie dae en drie nagte in die graf (of letterlik “ín die binneste/hart van die aarde”) sal wees. (Kyk Mat.12:40; 27:63; Mark. 8:31; 9:31; 10:34; Joh.2:19)
  • Ons weet ook dat die vroue op die eerste dag van die week, met ander woorde die Sondagoggend, nadat die kruisigingsgebeure verby was en die Liggaam van Jesus reeds vir drie dae in die graf was, en nadat die gewone Sabbat verby was na die graf toe gegaan het. (Kyk bv., Luk. 24:1)

 

Inleidend

Die meeste Christengelowiges herdenk die kruisigingsgebeure gewoonlik op die Vrydag, wat hulle dan vir die rede “Goeie Vrydag” noem, wat dan gevolg sou word deur die viering van die opstanding van Jesus op die Sondag as eerste dag van die week.

Die rede vir die viering van die Kruisiging van Jesus op ʼn Vrydag, is omdat daar in Lukas 23:24 die volgende staan: “En dit was die dag van voorbereiding, en die Sabbat wou aanbreek.” (Party vertalings, soos die 1983-Afrikaanse Vertaling het daarom ook hierdie vers so geïnterpreteer en gevolglik so vertaal: “Dit was Vrydag, en die Sabbat het al begin aanbreek.”)

Alhoewel ʼn mens dus verstaan waarom baie Christene oor die wêreld die kruisiging-gebeure as ʼn “Goeie Vrydag” -gebeure vier, is dit baie duidelik uit die feite van die gebeure dat die kruisiging in werklikheid reeds die Woensdag gebeur het.

ʼn Mens kan wel sê dat dit tog gaan oor ʼn viering van hierdie gebeure en dat dit vir volgelinge van Jesus oor die wêreld maar net weer die geleentheid en voorreg bied om saam met ander familielede en ander Christengelowiges stil te word rondom ʼn week se gebeure in Jesus se lewe wat elkeen van ons se lewens verander het.

Maar ek verskil tog hiervan en het met die skrywe van hierdie artikel juis probeer aantoon waarom die presiesheid rondom wat presies en wanneer presies hierdie gebeure afgespeel het, belangrik is omdat dit handel oor historiese gebeure wat die totale geskiedenis van die hele wêreld verander het. As ons nie eers oor sulke gebeure vir onsself behoorlik rekenskap kan gee oor die werklike feite van die gebeure nie, hoe kan ons met geloofwaardigheid daaroor getuig teenoor ʼn verlore, maar baie kritiese en siniese wêreld, wat al klaar wonder oor en of daar geloofwaardige gronde is vir die Bybelse boodskap en spesifiek dit wat oor Jesus gesê en getuig word.

Daarom wil ek dan in hierdie artikel elke leser geleentheid bied om te mediteer oor die detail van die historiese gebeure van elke dag van hierdie lewensbelangrike week.

Mag die lewende God self, deur die werking van Sy Gees, hierdie waarhede gebruik om elkeen opnuut aan te raak en vry te maak.

Die waarheid alleen maak immers ons vry!

 

DAARDIE WEEK SE GEBEURE DAARDIE JAAR WAARIN DIE EERSTE DAG VAN PESACH OP 15 NISSAN NIE OP ʼn GEWONE SABBAT GEVAL HET NIE

 

DIE SONDAG

Voor ek met jou gesels oor daardie Woensdag se gebeure, kom ons begin in ons nadenke reeds by die Sondag se gebeure. Palmsondag, noem die kerklike wêreld wêreldwyd  dit.

Dit was die dag waarvan Lukas 19 en Johannes 12:12 en verder, ons vertel. Dit was die dag toe Jesus Jerusalem, die stad van koning Dawid, binnegery het op ʼn donkie.

Soos voor ʼn koning van destyds, het die skare klere en palmtakke voor Hom neergegooi om aan Hom eer te betoon as die Koning uit die geslag van Dawid. Alles presies soos die profesieë in Sag. 9:9 en Dan. 9:25 – 27 eeue tevore voorspel het sou gebeur.

Volgens Eksodus 12 moes die lam vir die Pasga wat later die week gevier sou word, gekies word op die tiende van die eerste maand van die Joodse Jaar, die maand, Nissan.

Volgens die gebruik in Jesus se tyd, was alleenlik lammetjies wat van die Bethlehem-area kom, geskik geag om as ’n lam vir die Pasga-viering te dien. Daarom gedurende daardie week waarin die Pesach gevier is, op daardie spesifieke Sondag, is ’n lam wat gebore is in die Bethlehem-distrik, gekies en in Jerusalem ingebring van die Olyfberg se kant af, deur die Skaappoort.

Dit sou presies dieselfde pad wees wat Jesus in daardie week op die betrokke Sondag Jerusalem binnegekom het op Sy triomftog. (Kyk Mat. 21:1 e.v.; Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-38; Joh. 12:12-19)

Soos wat Hy ingekom het, het die mense geskreeu: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Red ons, Seun van Dawid!

So is Jesus uit Nasaret met groot akklamasie aangewys as die langverwagte Messias van Israel en het die skare hulle Lam vir die Pasga gekies!

Hierdie lam moes egter eers deur die geestelike leiers ondersoek word, want – leer die Torah – dit moes ʼn lam sonder gebrek en vlekloos wees om geskik te wees om as lam vir die Pasga geslag te word.

Daarom lees ons hoe Jesus, na Sy intog in Jerusalem in, eers na die tempel toe gegaan het om daar te leer. (Kyk na gedeeltes hieroor, soos Mat. 21:23 e.v.; Mark. 11:27-33; Luk. 20:1-8)

Terwyl Hy daar was, het die Fariseërs, Sadduseërs en ander wetsgeleerdes gekom en met allerhande moeilike vrae Hom probeer uitvang om Hom as ’n leuenaar te probeer uitwys. Maar hulle kon geen fout by Hom vind nie.

 

Die datering van hierdie gebeure

Laat ek dadelik hier eerlik bely dat dit baie moeilik is om hierdie gebeure, wat aanvanklik volgens die Joodse Maan-kalender gedateer is, nou volgens ons kalender, wat as die Gregoriese kalender bekend staan, presies en korrek te dateer.

Die rede hiervoor is dat omdat die Gregoriese kalender (wat sedert 1582 gevolg word en wat gebaseer is op die beweging van die son), baie streng reëls het en dus maklik aangepas en bereken kan word Daarteenoor het die Joodse Rabbi’s, wat die Joodse Feeste se datering elke jaar volgens die 28 dae-siklus van die Maan bepaal het, soms hulle eie reëls en voorkeure gebruik om te bereken wanneer ʼn bepaalde fees, soos die Pesach, wat as ʼn Sabbat gevier moes word, kon gebeur in ʼn betrokke jaar. Verder, om dinge nog meer ingewikkeld te maak, kon van hierdie feeste volgens sommige kringe onder die Joodse Rabbi’s, nie op ʼn Maandag, of ʼn Woensdag, of ʼn Vrydag gevier word nie, maar wel net op ʼn Sondag, ʼn Dinsdag, ʼn Donderdag, of ʼn Saterdag.

Kom ons probeer tog om volgens die beste navorsing en berekeninge, ʼn datum aan hierdie gebeure op daardie sogenaamde Palm-Sondag te gee.

As ons begin by ʼn datering waarin die Pesach-ete op die Eerste Dag van die Pesach-vieringe op ʼn Donderdag plaasgevind het, dan was dit in die jaar 30 n.C.

15 Nissan van daardie jaar, 30 n.C., het dan op 3-4 April 30 n.C. geval. (Onthou die Joodse Donderdag het reeds op die Woensdagaand, 18h00 begin!)

Dan het hierdie besondere Palm-Sondag op 31 Maart-1 April 30 n.C. geval.

 

DIE MAANDAG

Die betrokke Maandag van die week waarin die Pasga gevier moes word, moes elke vorm van gis, as simbool van kwaad en sonde, uit elke huis verwyder word volgens die instruksies van die Torah. Daarom het elke Joodse moeder met ’n kers in haar huis rondgesoek vir enige vorm daarvan op hierdie dag.

Daarom het Jesus juis daardie Maandag na die tempel as huis van God gegaan en toe al die geldwisselaars daar uitgejaag (Luk. 19:45 e.v.).

 

DIE DINSDAGAAND

Omdat Jesus en sy dissipels nie daardie betrokke jaar in Jerusalem self was nie maar in Betanië, ’n klein dorpie net buite Jerusalem, was dit toelaatbaar dat hulle daar ’n dag vooraf, die voorbereiding kon doen en die Pasga-maal kon vier. (Lukas 22:14 e.v.; Matteus 26:17-35; en Johannes 13:36-38 vertel ons daarvan).

Later daardie aand word Jesus gevange geneem in die tuin van Getsemane, wat lê op die pad van Betanië na Jerusalem toe (Mat. 26:36-46; Luk. 22:39-53).

 

DAARDIE WEEK HET TWEE SABBATTE GEHAD

Omdat dit baie belangrik is vir ʼn korrekte datering en verstaan van die gebeure van hierdie belangrike week, wil ek net weer hier herhaal dat die week waarin die Pasga gevier is, soms twee Sabbatte kon hê as die Pasga êrens in die middel van die week val.

Die jaar 30 n.C., volgens die Joodse kalender, was juis so ʼn jaar. Daarom vind ons dan dat hulle in so ʼn week die Eerste dag van die Fees van Ongesuurde brood, waarop die Pasga-ete die aand gevier is, volgens die Joodse feeskalender, as ʼn Sabbat gereken sou word. Later die week word die gewone Sabbat dan op die sewende dag van die week soos gewoonlik gevier.

Soos ek gesê het, die week toe Jesus gekruisig is, was dit juis so.

Kom ek begin om in die lig hiervan vir jou die res van die gebeure daardie week kronologies te plaas.

 

DIE WOENSDAGOGGEND OM 06H00

Volgens die Joodse kalender daardie betrokke jaar (30 n.C.), moes die “dag van voorbereiding”, met die oog op die Pasga-maal wat later daardie aand sou volg, op daardie Woensdag plaasvind.

Jesus, ons volmaakte Pasga-lam sonder gebrek, moes voorberei word om geslag te word en te sterf in ons plek.

Alles gebeur daardie Woensdagoggend reeds om 06h00 toe Jesus deur Pilatus verhoor en gevonnis is. (Joh. 19:13-16)

 

DIE WOENSDAGOGGEND OM 09H00

Gelyktydig met die gebeure in die tempel daar in Jerusalem, toe die Hoëpriester die gekose lam vir die betrokke Pasga vasgemaak het aan die horings van die altaar, op die veertiende dag van die Joodse maand, Nissan, word Jesus op Golgota om 09h00 daardie oggend, vasgespyker aan ʼn kruis.

Volgens ons Gregoriese datering word Jesus dus gekruisig op Woensdag, 3 April 30 n.C., of 14 Nissan daardie jaar volgens die Maan-kalender van die Jode.

15H00, DAARDIE WOENSDAGMIDDAG

Na ʼn skielike sonsverduistering van drie ure van 12h00 daardie middag af, gelyktydig met die tyd wat die lam in die tempel keelaf gesny en geslag moes word (volgens Eksodus 12:6), sterf Jesus 15h00 daardie Woensdagmiddag (Mat. 27:45 e.v.) Na drie ure van “hel” kon Hy sê: “Dit is volbring”, en kon Hy Sy asem finaal uitblaas.

Alles wat nodig was om te gebeur om sondevergiffenis moontlik te maak, was gedaan. Die oorwinning is behaal en daarom kon Jesus met vrede Sy lewe oorgee aan die Vader.

Nou kan ek en jy in geloof met vrymoedigheid en sekerheid sê: Ek is deur die Bloed van die Lam uit die hande van die vyand verlos!

Maar selfs baie meer as dit het daardie oomblik gebeur.

Matteus vertel ons daarvan in hoofstuk 27 vers 51 en verder.

Dit was asof God die Vader uit die hemel die mense van destyds wou help om te verstaan dat wat hier gebeur het, van kardinale belang was. Ja, dat die geskiedenis van die wêreld werklik met hierdie gebeure verander het!

Om die kollig voluit te laat val op presies wat op daardie oomblik gebeur het, neem God met Sy eie hande die Heiligste van heilige voorwerpe vir die Jood van destyds, naamlik die dik gordyn wat die Heilige gedeelte van die tempel, van die Allerheiligste in die tempel geskei.

Ja, God het dit letterlik van bo na onder geskeur! Daardie selfde gordyn waardeur die hoëpriester net eenmaal per jaar kon stap na die Allerheiligste-gedeelte toe, was skielik net weg en skielik was daar geen skeiding meer oor tussen die Heilige en die Allerheiligste nie, waar God in Sy heilige teenwoordigheid self gesit en wag het om met Sy mense te praat.

Daarom kan die Hebreërbrief praat oor hierdie vrymoedigheid waarmee elke gelowige nou na hierdie gebeure, self kon verskyn in die Heilige God se teenwoordigheid. (Kyk Heb. 10:19)

Om verder te beklemtoon wat hier gebeur het, gebruik God as’t ware alles wat Hy het om die gemeenskap vir weke en jare aan die praat te hou oor hierdie gebeure.

Skielik was daar ʼn aardbewing en grafte het oopgegaan. Mense wat die afgelope tyd gesterf en begrawe is, het skielik lewend uit die grafte gekom en het in die strate van Jerusalem begin rondstap vir almal om te sien en om mee te gesels!

Dit was asof God net hiermee wou sê: Hierdie is ʼn totaal nuwe begin! Die ou verbond met al sy dinge was verby. ʼn Nuwe verhouding met My is nou moontlik. Alles waaraan die Ou Verbond, met al sy feeste en wette, julle wou herinner en soos padwysers julle na My toe wou lei, is nou alles hier!

Al hierdie dinge uit die Ou Verbond, het sy doel gedien. Voortaan sou die wette net dien om ongelowiges te oortuig dat hulle sondaars en totaal verlore is!

Ja, dit sou hulle finaal herinner daaraan dat Jesus Christus gekom het as die Messias en Lam van God, wat juis hierdie week moes sterf soos die Paaslam al die vorige jare.

 

VROEGAAND, VOOR 18H00 DAARDIE WOENSDAG

Met die Pasga-viering wat na 18h00 moes plaasvind en die Sabbatsrus wat voorlê, moes die gelowige volgelinge van Jesus Sy liggaam van die kruis afhaal en gaan neerlê in die graf wat Josef van Arimatea daarvoor geskenk het.

Markus 15:42 en verder vertel ons daarvan.

(Moenie verlei word deur die Nuwe Afrikaanse vertaling van: “Dit was Vrydag”, nie. Dit staan nie in die Grieks nie. Gaan lees maar in die 1953-Afrikaanse vertaling of in die NIV wat presies in die oorspronklike Grieks staan).

DRIE DAE IN DIE GRAF

Volgens die Skrif en die profesieë, sou Jesus drie dae en drie nagte in die graf wees.

Hy was dus daardie spesiale Sabbat (of eerste dag van die “fees van die ongesuurde brood”) daar, wat gestrek het van die Woensdagaand 18:00 tot Donderdagaand 18:00; gevolg deur die Vrydag (wat gestrek het van die Donderdagaand 18h00 tot die Vrydagaand 18h00); en dan ook vir die normale Joodse Sabbat (van die Vrydagaand 18:00 tot die Saterdagaand 18:00).

HY HET OPGESTAAN

Vroeg daardie Saterdagaand, na 18:00, met die aanbreek van die Joodse Eerste dag van die week, staan Jesus uit die dood op na drie dae in die graf.

Presies hoe laat dit was, weet ons nie, want dit word nie vir ons gesê nie.

Jesus het immers self profeties verklaar dat Hy gekruisig gaan word, gaan sterf, en vir drie dae in die graf gaan wees en dan weer gaan opstaan.

So kom talle ander profetiese gedeeltes ook hiermee in vervulling, naamlik Hos. 6:1,2; en die teken van Jona (Mat. 12:40).

Daardie Saterdagaand het die priester, volgens die Joodse feeskalender, ook die “Eersteling-gerf” van die oes voor God gewuif om so die nuwe oes aan God te wy (Lev. 23:10-11).

Daarom word die Opgestane Jesus ook die “Eersteling’ daar in 1 Kor. 15:20-23 genoem.

 

VROEG DIE SONDAGMÔRE

Vroeg daardie Sondagmôre, 7 April 30 n.C., ontdek Maria Magdalena en die ander Maria, en later ook van die ander dissipels, dat Jesus Christus opgestaan het soos Hyself gesê het gaan gebeur (Mat. 28:1 e.v.).

Daarom kan ons saam met die gelowiges oor die eeue sê: Halleluja, ons dien waarlik ’n lewende Here! (1 Kor. 15). Jesus Christus het werklik opgestaan en Hy lewe.

Anders as alle figure wat in ander godsdienste aanbid word, dien ons ʼn Lewende, Opgestane Here.

As Hy nie werklik opgestaan het nie, was ons geloof as Christengelowiges tevergeefs. (Lees 1 Kor. 15 hieroor)

 

SKIELIK WORD DIT DIE WEEK WAT DIE GESKIEDENIS VAN DIE WÊRELD VERANDER HET

Wie stil staan by die realiteite van hierdie week se gebeure, kan nie anders as om vir die eerste keer, of by hernuwing, oor Jesus en wie Hy werklik was, na te dink nie.

Wie was Jesus van Nasaret werklik? Was Hy net ʼn doodgewone mens wat van 11 September 3 v.C. tot 4 April 30 n.C. gelewe het?

Wat dan van al die merkwaardige dinge wat Hy gesê het en wat Hy gedoen het?

Wat van die feit dat alles wat Hy selfs oor Sy dood gesê het, presies so gebeur het?

Hy het selfs gesê dat Hy na drie dae sou opstaan uit die dood!

Kon Hy dan net ʼn buitengewone goeie mens òf net ʼn profeet wees, soos sommige Hom wil beskryf? Dit kan mos nie wees as die gebeure werklik so gebeur het soos ek jou vertel het nie.

En as Hy nie werklik uit die dood opgestaan het nie, was Hy ʼn leuenaar en kon Hy nie werklik ʼn ware profeet wees nie.

Wat boonop nog van die feit dat Hy aanspraak daarop gemaak het dat Hy God is wat mens geword het!

Wie werklik hiermee erns maak en eerlik wil wees in die lig van die feite, kan nie net sê dat Hy net nog ʼn buitengewone goeie man of profeet was nie.

Óf Hy was die grootste leuenaar en psigopaat wat nog ooit geleef het, óf Hy was wie Hy gesê het Hy is! Naamlik God wat mens kom word het, om ons finaal te verlos.

Ja, dan was Jesus van Nasaret werklik die Verlosser wat gekom het sodat elkeen wat in Hom glo, lewe kan hê en dit in oorvloed!