‘n Profetiese woord vir  2010 (deel 2)

So sê die Here ...

In hierdie seisoen wil Ek jou werklik wys wat agter die skerms en agter strukture en organisasies aan die gang is.  Sodat jy My hand kan sien, maar ook kan sien hoe demoniese magte jou probeer weerstaan of jou wil moedeloos maak. 

As jy hulle raaksien, moenie moedeloos of bang raak nie. Glo en vertrou dat Ek jou lankal gereed gemaak en toegerus het om gelowig oorwinnend te doen wat jy in hierdie situasies moet doen.

Onthou, Ek is die Here, jou Here, en niks is vir My ontmoontlik nie.  Hou aan My Woord en My beloftes aan jou in hierdie dae vas.  En vertrou My om My woord in vervulling te bring.  Wag op leiding van My af, en doen maar net in gehoorsaamheid wat Ek vir jou vra om te doen.  Vertrou My vir die res.  Ja, vertrou My selfs vir die totaal onmoontlike ...

Ek wil My planne nuut aan jou in hierdie dae openbaar, sodat jy weer bewus kan word van My genade en beloftes aan jou en jou mense.

Ek is besig om ‘n hele klomp dinge nuut aanmekaar te sit en te herkonstuktueer in hierdie tyd.  Julle is tans in ‘n 16 jaar-bou-seisoen.  Daarom het Ek reeds apostoliese leiers oral opgerig en opdrag gegee om My hemelse planne aan julle bekend te maak en in werking te stel vir My koninkryksprojekte.

Ek gaan selfs van My mense stuur in donker, demoniese strukture in.  Daarom hoef hulle nie die donker daar te vrees nie.  En Ek gaan aan hulle ‘n pad van geregtigheid wys dwarsdeur daardie struktuur van ongeregtigheid.  Ek sal die demoniese magte terughou en soos die Rooi See “oop maak”, sodat My kinders by hulle bestemmings kan uitkom.  Die demoniese magte en die reuse sal julle kos word in hierdie dae!

As Ek julle in riviere inlei in hierdie dae, moenie net “in die rivier” inspring met vertroue nie.  Laat Ek julle lei na die bron en oorsprong van daardie riviere.  Stap saam met My na waar die outoriteit en gesag vandaan kom in hierdie ou sisteme van ongeregtigheid, sodat Ek julle kan help om al die blokasies en wortels daar in die fondasies te verwyder en te herstel.  So sal Ek aan julle openbaar wat die vloei van My seën die laaste seisoen teruggehou het.  Sodat julle dit ook aan ander in nood kan openbaar.

Ek maak ‘n nuwe lied in julle binneste wakker.  Wat soos ‘n nuwe stroom water uit julle gaan borrel en enige bitterheid, pyn en smart gaan verdryf.

Onthou, Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde van dinge.  Dit is Ek wat My visie en planne vir jou lewe en vir dinge rondom jou in jou sal openbaar, maar ook sal klaar maak wat Ek begin het.  Ek is die Alfa wat aan jou sal wys wat nodig is om klaar te maak.  Maar Ek is ook die Omega wat jou sal wys hoe om te volhard tot die einde.

Laat My toe om julle gedagtes te vernuwe.  Laat My toe om julle in julle posisies van outoriteit te posisioneer en julle nuut te programmeer vir hierdie nuwe seisoen.  Lees Sag. 3 in die verband.

Onthou My Woord daar in Jer. 33:3 wat sê: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”  Asook dit wat daar in Ef. 1:17 sê:  “... bid ... dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.”

In Ps. 51:17 sê Ek vir julle:  “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!”  Maak tyd om My aangesig te soek in nederigheid.  Wees bereid om stil te raak oor daardie totaal onverstaanbare dinge wat gebeur in jou en ander se lewens, en kies om My net onvoorwaardelik te vertrou en lief te hê. 

Besef julle het bonatuurlike wysheid nodig in hierdie dae.  Vertrou My daarvoor.  Vertrou My vir profetiese en apostoliese leiers in My Liggaam om perspektief, strategie en leiding onverskrokke te gee wat hulle by My gekry het.  Net dit gaan dinge neem na ‘n nuwe, hoër vlak en gaan nuwe paradigmas op die tafel neersit.  Anders gaan julle maar net weer dinge doen soos julle dit nog altyd gedoen het, en uiteindelik dieselfde foute as in die verlede maak. Moenie dink dinge gaan beter en anders wees as julle maar net weer doen wat julle nog altyd gedoen het nie!

Besef daardie gedissiplineerde tye in My teenwoordigheid - alleen en saam met My kinders - gaan die plek en die tye wees waar Ek jou kan bedien en toerus met bonatuurlike wysheid en insig deur My Gees.  Kies daarom doelbewus om elke dag daarvoor tyd te maak.

Baie van julle het die afgelope tyd deur baie moeilike tye gegaan waar julle baie verloor en baie swaar gekry het.  Sommige het selfs hulle werk verloor en moes op ander steun vir die basiese dinge in hulle lewens.  Dat jy soms gevoel het soos ‘n mislukking. 

Jy is nie ‘n mislukking nie.  En weet verder dat Ek ook totaal in beheer midde al hierdie dinge was.  Soos Ek belowe het in Rom. 8:28, sal en kan Ek ook uit hierdie dinge “... net die beste ... “ vir julle as My kinders laat kom.  Soos ‘n goeie Vader het Ek ook hierdie tye gebruik om julle te leer en te dissiplineer.  Ja, en om julle gereed te maak sodat Ek julle met meer kan vertrou in die nabye toekoms.

Raak ‘n bietjie stil met gedeeltes soos Deut. 8 in hierdie verband, en laat Ek vir jou in verse 3, 5 tot 14 e.v. wys wat in My hart is.  Laat Ek julle leer hoe om reg te bid in hierdie dae: “Vader ...   Openbaar U krag in my swakhede.   Openbaar wie U werklik is as ek maar net weer trots geword het.  Openbaar U waarhede wanneer leuens my oorval.  Openbaar U bonatuurlike versorging en krag in my nood en wanneer ek sukkel om U alleen te vertrou.  Openbaar U rykdom in my armoede.  Openbaar die waarhede oor werklike gesondheid en totale genesing midde tye van siekte.  Openbaar U werklike oorvloed as ek soms honger is.  Openbaar U teenwoordigheid daar waar ek dink ek alleen en eensaam is.  En openbaar die diepte en omvang van U geskenk van lewe as ek of ander voor die realiteit van die dood staan.  Amen.”