‘n Profetiese woord vir  2010 (deel 3)

Hierdie seisoen is ‘n seisoen waar My mense moet leer wat ware geloof en vertroue in My werklik is, beleef ek God sê vir hierdie jaar in die besonder.  Hy gaan voort:

Gaan lees Heb. 11 en 12 en ontdek weer hoekom Ek net deur een ding in julle lewens werklik behaag word, naamlik wanneer julle werklik in My glo en My bo alles vertrou.

Baie van My volgelinge het as gevolg van die swaar en uitdagende tye en situasies van die afgelope jaar of twee negatief, selfs moedeloos en apaties, geword.

Dit het tyd geword om weer opnuut te kies om in My en My woord aan jou en jou mense te glo en net daarop te vertrou.  En aan te hou glo en aan te hou vertrou ... kom wat wil.

Onthou wat Ek julle geleer het wat geloof is:  “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

As Ek vir jou iets gesê of belowe het, kan jy jou hoop daarop bou en daaraan bly vashou, al sien jy nog niks daarvan nou nie, en al sê jou verstand en die mense rondom jou jy is nie realisties nie.

Onthou wat Ek julle geleer het in Heb. 12:1 en 2.  Naamlik dat geloof en vertroue beteken: “... laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”

Onthou, Jesus, Sy oorvloedige lewe en Sy Geesgedrewe karakter, is en woon in elkeen van julle as My volgelinge deur die werk en inwoning van My Gees in julle!

Laat dit julle lewens, gedagtes en optrede bepaal as jy voor enige mens, situasie, siekte, uitdaging, struktuur, vorm van ongeregtigheid of wat ookal te staan kom!

Hou rekening met My en My bestaan as jy voor die skynbare onmoontlike, skynbare onveranderlike, en onbeweegbare te staan kom!

Onthou, Ek is en was die God wat ‘n Josef uit ‘n put en tronk kon lig en verander in die tweede in bevel van die magtigste land op Aarde in sy dag!  Onthou, Ek is en was die God wat ‘n brandarm, tot-die-dood-toe-moeg weduwee kon verander in die gewillige gasvrou en kok met onuitputlike bronne tot haar beskikking in die lewe van een van My profete!

Ek is besig om My bruid gereed te maak en toe te rus.  Maak tyd om na My te luister en by My voete stil te raak.  Laat Ek jou dissiplineer om My teenwoordigheid bewustelik te ervaar nie net daar waar jy rondom My Woord alleen of saam met ander gelowiges stil raak nie.  Ja, ook daar waar jy deel is van die skare of een van derduisende is wat maar net besig is om jou gewone werk elke dag te doen.

Leer om daar sensitief te wees vir My stem.  Leer om daar te ontdek niks is toevallig nie.  Leer om daar te ontdek elke mens op die telefoon, of in jou dag se wandel en werk, of waar jy ontspan, pas êrens in ‘n groter prentjie in: My prentjie en My besig-wees met jou!

Ontdek hoe Ek besig is om alles te restoreer wat die vyand by jou kom steel het, en hoe Ek jou inlei en laat geniet van die oorvloed wat Ek vir jou bedoel het ... dubbele prosies daarvan!

Onthou dit wat daar in Rom. 5:3 tot 5 staan:  “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Soos wat ‘n brandplankryer op sy branderplank lê en wag op die golwe; en moet leer hoe om elke golf op meriete te hanteer; en watter golf die een is wat hy moet ry en tot waar ... so gaan ook hierdie jaar sy golwe hê!  Golwe van My grootheid en heerlikheid, sê die Here.  Golwe van seën.  Ja, selfs golwe van toetsing en uitdagings.  Vertou My Gees om julle te leer hoe om elke golf te hanteer.  Laat Ek julle wys watter julle moet ry en tot waar. 

Herinner jouself gedurig daaraan dat jy kan verwag om te deel in hierdie fees van seëninge en oorvloed.

2010 het die potensiaal om julle beste jaar ooit te wees as Liggaam van Jesus op Aarde!

Beleef hoe Ek My hand uitsteek uit die hemel en onder julle werk, en in die proses lewens en situasies op Aarde verander!