‘n Profetiese woord vir  2010 (deel 4)

Jesus het soveel keer stories van werklike gebeure en dinge gebruik het om iets profeties oor Sy Vader en Sy wil vir ons te sê.  So wil ek vandag so ‘n storie aan jou vertel om profeties te sê wat ek hoor oor God se wil vir nou, en waarmee Hy tans besig is in Sy kerk en oor die wêreld.

Wolfgang Simson vertel in sy boek, THE STARFISH MANIFESTO, van die volgende werklike gebeure.

Hy was besig om saam met wêreldleiers in die Liggaam van Jesus te gesels oor wat in baie dele van die Liggaam van Jesus tans aan die gebeur is.  Hoe derduisende mense opnuut of vir die eerste keer “ja” vir Jesus Christus sê, maar “nee” vir baie bestaande dele van die sigbare kerk rondom hulle sê.  Terwyl hy besig was daaroor te praat, gee iemand hom ‘n nota van ‘n profetiese woord van iemand uit die gehoor wat sê God se Gees wil hê hy moet vertel van wat eendag op die strand van die Suid-Fillipynse eiland, Mindanao, gebeur het.

Hy begin toe te vertel van hierdie klein seuntjie wat besig was om met ‘n muskietnet in die water te speel toe daar onverwags iets byna bonatuurlik gebeur het.  Derduisende klein vissies – dieselfde soort wat die Fillipyne op die eiland gewoonlik gebraaid saam met knoffelrys vir aandete eet – het skielik in die muskietnet verstrengel geraak.   Mense het nader gestorm en begin om die vissies met emmers te begin opskep.  Later was elke beskikbare houer en krat vol vis!  Hulle begin toe sommer van die vis in ‘n vissersboot van bykans agt meter te gooi wat daar op die strand gelê het.  Dié was later ook oorlopens toe vol!  Die inwoners van die dorp het die strate jubelend op en af gehardloop soos wat hulle emmers van die vissies na hulle huis toe geneem het.

Nadat Wolfgang sy verhaal vertel het, staan ‘n vrou op en vertel in trane van ‘n droom wat sy herhaaldelik die afgelope tyd gehad het, wat sy geweet het van God af was.  Sy vertel hoe sy haarself in die droom gesien het waar sy besig was om muskietnette aan vroue in Tanzanië uit te deel.  En hoe sy dan in die droom hoor hoe God se Gees aan haar :  ‘n Man uit Duitsland (Wolfgang Simson is ‘n Duitser) sal vir jou ‘n storie vertel wat jou gaan help om die droom te verstaan.

Skielik beleef elkeen in die vergadering hoe God se Gees besig was om hulle te wys wat oral oor die wêreld aan die gebeur is.  Hoe God besig is met ‘n geestelike ontwaking en oes met bekerings en lewens wat omkeer.  En wat aangrypend is, is dat dit die meeste van die tyd half onverwags gebeur, op die vreemdste maniere en plekke, en dat Hy die meeste van die tyd mense gebruik wat ‘n mens eintlik nie sou verwag nie.

Die Here herinner hulle toe aan Jesus se woord daar in Luk. 10:2 waar daar staan: "Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Iemand staan toe in die vergadering op en dat die Here hom herinner aan hierdie fabel van die broers Grimm wat vertel het van ‘n draak wat die inwoners van ‘n bepaalde land se lewens hel gemaak het.  Die koning van die land laat weet toe dat hy die helfde van sy koninkryk sal gee vir die man of vrou wat van hierdie draak ontslae sal raak.

Die persoon wat die verhaal vertel, draai toe om na iemand in die gehoor en vir hom profeties:  Jy het al baie kere vir die Here belowe dat jy bereid is om die helfde van jou besigheid se winste te gee as dit maar net Sy koninkryk kan laat kom.  Dit is nou tyd dat jy en andere om jou moet begin doen wat julle belowe het.  Laat God vir julle wys wie die mense is vir wie julle finansieel moet gee sodat hulle muskietnette van allerlei vorme kan gaan uitdeel wat God wil gebruik om bonatuurlik geestelike visse mee te vang.

Die man wat die profetiese woord ontvang het, begin toe huilend vertel dat hy ‘n sakeman en voorsitter van sy land se Christen-besigheidsaksie is.

Kan ek ‘n paar opmerkings hieroor maak:  Ek weet nie of jy weet nie, maar dit word bereken dat bykans 75 persent van nuwe bekerings wat tans wêreldwyd plaasvind, buite die normale, gestruktureerde kerk en kerklike byeenkomste en programme plaasvind.  En dat dit op die “vreemsteplekke en deur mense plaasvind waarvan niemand jare gelede nog ooit gehoor het, of nooit van sou verwag nie.

God se Gees is besig om oral deur wat ek die “ekklesia in eenvoudwil noem, te werk. Daarmee verwys ek doodgewoon na waar gelowiges in alle nederigheid  hulle gewoon alledaagse dinge doen, of dan spesifiek net doen wat God hulle aangesê het om te doen.  Maar in die proses beleef hulle dan hoe God dit gebruik om lewens rondom hulle aan te raak en om te keer.  Uiteindelik gebeur dit so dat almal betrokke en almal wat dit sien, maar net kan bely:  Dit wat hier gebeur, is God se werk!  Alle eer kom net Hom toe!

Ek wil jou uitdaag:  As jy werklik glo en soek na hoe God se koninkryk en wil kan kom, is jy bereid om maar net te doen wat God jou vra om te doen?

Miskien is jy een van diegene wat moet besluit om ‘n deel van alles wat jy het te gee sodat Sy koninkryk kan kom.  Miskien is jy een van diegene wat maar net elke dag moet doen wat jy moet doen, maar dan nie vir mense nie, maar vir God … Soos Hy gesê het jy moet dit doen!

Heelwaarskynlik is ek en jy in albei hierdie groepe.

Onthou 2 Kor. 9:6 tot 11: “Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.  Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan en volop kan bydra vir elke goeie werk.  Daar staan ook geskrywe: ‘Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.’

God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.  Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees.”