‘n Profetiese woord vir die nuwe seisoen – 2010 en verder

Belangrike Skrifgedeeltes in die verband – Jer. 29 tot 33.

Ek gaan vir julle leer nuut kyk na dinge, sê die Here.  Dit gaan wees asof Ek vir julle ‘n nuwe bril gee om na dinge te kyk; ‘n bril wat veral in die onsigbare dimensie kan insien.  Wat kan raaksien dat dit is soos Ef. 6 sê, julle worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die onsigbare magte in die lug.

Verskeie geestelike reuse het My kinders op baie gebiede bedreig en uitgedaag.  Soos Goliat My volk van destyds uitgedaag het: polities, finansieel, sosiaal, fisies ...  Om julle te laat twyfel of Ek julle kan uitred ... of Ek werklik ‘n waar-maker is van My Woord.

Moenie vrees nie!  Bly glo en vertrou op My!  Ek is getrou aan My Woord.

Moenie hierdie reuse en sisteme van ongeregtigheid vrees of julle laat terughou nie.  Ek is ten volle in beheer.  Ek weet wat Ek vir julle beplan: voorspoed en nie teëspoed nie.  Bly vertrou op My beloftes  aan julle dat Ek vir diegene wat My liefhet, alles ... alles ... tot hulle beswil sal laat verloop en sal gebruik.

Moet nie terughou nie.  Maak jou handremme los.  Verwyder enige selfopgelegte grense wat jou terughou op te ontwikkel en te doen wat Ek in jou hart gelê het.  Sestien jaar van opbou lê voor.  Dit is ‘n tyd van uitbreiding en voltooiing wat voorlê.   Die moeilike tye wat die afgelope tyd verby is het jou spiere geoefen en jou gereed gemaak vir groter outoriteit en verantwoordelikhede.

As jy dit nog nie gedoen het nie, kom sit stil by My, sodat Ek jou presies kan vertel wat My hart vir jou is in hierdie seisoen.  Ek wil jou help om werklik raak te sien wat Ek in jou lewe die afgelope tyd gedoen het.

Weerstaan enige vorm van wettisisme met mag en mening.  Laat Ek jou help onderskei tussen genade en wetties wees.  Hulle lyk soms vir julle so dieselfde.  Hulle groei langs mekaar in die lewens van My kinders.  Genade is gewortel in die geloof in wat My Seun reeds volledig kant en klaar alles gedoen het, en wat op grond daarvan handel in liefde.  Wettisisme is gebaseer op vrees en beheer, en is maar weer menslike pogings om My te manipuleer om julle te seën.  Gaan lees tog weer wat Ek deur Paulus aan julle gesê het daar in Galasiërs.

Weerstaan met mag en mening die oue wat teruggryp en vasklou aan ou wynsakke en mensgemaakte tradisies en leringe.  Kom sit by My voete en laat Ek vir julle die waarheid openbaar oor dinge.  Laat Ek jou gereed maak vir die seisoen van verandering wat voorlê.

Onthou My Woord aan julle in hierdie tyd daar in Jeremia: 

Jer. 29:4-7 -  So sê Ek, die Here die Almagtige, die God ... vir al die ballinge ...:  Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie.  Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange... Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Jer. 29: 12-14  - Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.  Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.  Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit...

Jer. 30:10,11  - Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, moenie skrik nie, Israel, sê die Here. Ek red jou uit plekke wat ver weg is, jou nakomelinge uit die land waar hulle ballinge is. Jakob sal weer veilig wees en vrede hê, niemand sal hom laat bang word nie.  Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou red!

Jer. 30:22  - Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees.

Jer. 31:1-14  - Daardie tyd, sê die Here, sal Ek ... God wees, en ... (julle) ... sal my volk wees...  begenadig in die woestyn ... (jy) ... sal na (jou) ... rusplek toe kom... Ek het jou nog altyd liefgehad, daarom het Ek jou met geduld verdra. Ek sal aan jou kinders gee, Israel, jy sal kinders in die wêreld bring. Jy sal weer jou tamboeryne dra, jy sal uitgaan om te dans saam met dié wat bly is.  Jy sal weer wingerde plant ... die boere sal dit plant en die vrugte daarvan geniet.  Die dag het aangebreek, die dag waarop dié wat wag staan ... sal roep: "Kom ons gaan na Sion toe, na die Here ons God toe."  So sê die Here: Sing van blydskap... juig  ... !  Laat hoor julle loflied, en sê: Red u volk, Here ...  Ek laat kom hulle uit die land in die noorde, Ek vergader hulle van die uithoeke van die aarde af: onder hulle is blindes en kreupeles, swanger vrouens en vrouens in kraam. ‘n Groot gemeente sal hiernatoe terugkom.   In trane sal hulle kom, met smeekgebede, maar Ek sal hulle lei, Ek sal hulle by waterstrome bring, op ‘n gelyk pad, niemand sal struikel nie, want Ek het ...(hulle) ... Vader geword ...  Hoor die woord van die Here, nasies, vertel dit aan die verste eilande!  Julle moet sê: ... Die Here sal hom oppas soos ‘n wagter sy trop skape oppas.  Die Here het (ons) ...  bevry, ...(ons) ... gered uit die mag van een wat sterker as hulle is.  (Ons) ...  sal kom en op die Sionshoogte sing, ... (ons) ... sal straal van blydskap oor die goeie wat deur die Here gegee word: oor koring, wyn en olie, oor die aanteel van kleinvee en grootvee ... (Ons) ...  sal floreer soos ‘n tuin wat goed natgelei word ... (ons) ... sal nie meer na water smag nie. Dan sal die jong meisies dans van blydskap saam met die jong mans en die ou mans. Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.  Ek sal ‘n oorvloed goeie kos vir die priesters gee, my volk sal oorgenoeg hê aan die goeie wat Ek gee, sê die Here.

Jer. 31:25  - Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed.

Jer. 31:35  - So sê die Here, Hy wat die son bedags laat skyn, die maan en sterre beveel om snags te skitter, Hy wat die see onstuimig laat word, wat sy golwe laat druis, wie se Naam Here die Almagtige is ...

Jer. 32: 24-27  - Wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self.  En tog sê U, Here my God, vir my: ‘Gaan koop vir jou ‘n stuk grond met silwer en sorg dat jy getuies het,’ en dít noudat die stad in die mag van die Galdeërs gegee is.  Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:  Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.

Jer. 32:39-41  -   Ek sal hulle ‘n onverdeelde hart en ‘n vaste koers gee: hulle sal My altyd dien vir hulle eie beswil en vir dié van hulle kinders na hulle.  Ek sal ‘n blywende verbond met hulle sluit. Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie.  Ek sal dit geniet om goed te doen aan hulle in my trou; met alles wat Ek is, sal Ek hulle weer in dié land vestig.

Jer. 33:1-3  - Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom. Hy was toe nog ingeperk in die binneplaas van die paleiswag.  So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is:  Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.

Jer. 33:7-9  - Ek sal ... (julle) ... lot ... verander ...  Ek sal ...(julle) ...  reinig van al die sondes waarmee ...(julle) ...  teen My oortree het en al ...(julle) ...  sondes vergewe waarmee ...(julle) ...   teen My oortree het, en in opstand gekom het.  Dit sal my Naam groot maak en aan My blydskap verskaf, aan My lof en eer gee voor al die nasies van die aarde wanneer hulle hoor van al die goeie wat Ek vir ...(julle) ...   gedoen het. Die nasies sal bang wees en My dien oor al die goeie wat Ek doen en oor die vrede wat Ek vir ...(julle) ...  gee.