Sing deur die dag
ʼn Wenk om jou te help om heeltyd bewus te wees van die Here se teenwoordigheid is om deur sang en liedere die Here te aanbid en te prys.
Dit word dikwels oor die hoof gesien. Min mense besef dat om te sing vir die Here 'n vorm van gebed is. Dit is ook 'n manier om jou gees gedurig bewus te maak van Sy teenwoordigheid in en by jou. So kan die Here se Gees in jou, jou ook lei, bedien en jou lewe beheer.
Is jy ook so lief vir die Psalms soos ek? Besef jy dat die Psalms liedere is waarmee die skrywer van daardie psalm die Here wou loof en aanbid, of met Hom praat?
Ek lees elke week in my gedissiplineerde daaglikse stiltyd met die Here, ook ʼn gedeelte uit die Psalms. So lees ek in hierdie week Psalm 65. Luister ʼn bietjie hierna.
“'n Psalm van Dawid. 'n Lied.
O God, ons wil stil wees voor U, ons wil U prys in Sion, ons wil doen wat ons vir U belowe het.
Dit is U wat luister wanneer mense tot U bid. Al die mense wil na U toe kom om te bely dat hulle sondaars is. Ons sondes is vir ons te veel om te dra, dit is U wat ons sondes moet wegneem.
Dit gaan goed met iemand wanneer U hom kies en hom laat nader kom om voor u tempel te staan. Hy sal genoeg kry van al die goeie dinge in u tempel, u gewyde woonplek.
Wanneer U reg doen aan ons en vir ons antwoord, dan doen U wonderlike dinge, U, die God wat ons red.
Al die mense weet dat U sal help, al die mense in die verste plekke op die aarde en ver anderkant die see.
U is sterk, sterker as alles en almal, U het die berge neergesit op hulle plek. Wanneer U praat, dan word die see en sy branders stil, en die volke hou op om te raas.
Die wonderwerke wat U doen, laat die mense op die hele aarde bang word.
U laat hulle vrolik sing in die ooste en in die weste.
U sorg vir die aarde, U gee die reën, U maak die grond baie vrugbaar. 'n Groot stroom water kom van U en U laat die koring groei, ja, U doen dit alles. U laat dit baie reën in die koringlande, daar is baie water waar die mense geploeg het.
U maak die harde stukke grond nat, dit word sag van die reën.
U laat die plante groei. U maak dit 'n mooi jaar, alles groei goed, oral waar U gaan.
Die weivelde is vol gras, die heuwels juig. Die veld is vol skape en bokke, die valleie is vol koring, die mense skree, hulle sing.”
Klink dit ook vir jou soos ʼn lied wat ʼn Afrikaanse saaiboer êrens in Suid-Afrika maklik kan sing!
Luister ook na Paulus. Hy het mos dikwels liedere in sy gebedslewe gebruik. Hier is ʼn paar gedeeltes daaroor.
In Handelinge 16:25 sê die Bybel: "Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en lofliedere tot God te sing."
In Handelinge 13:2 lees ons hoe Paulus en ander "die Here gedien en gevas het." Om die Here te dien, is eenvoudig om God te aanbid en selfs vir Hom te sing.
In Efesiërs 5:18-20 sê Paulus vir ons: "Word met die Gees vervul en spreek met mekaar in psalms en lofgesange en geestelike liedere, sing en psalm in julle hart tot eer van die Here en dank God die Vader altyd vir alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.”