In Sy teenwoordigheid het ek die mantel van Josef leer optel as kind van God

Daar in die Here se teenwoordigheid het ek gehoor hoe die Here vir my en elke gelowige volgeling van Hom sê: “Voed My skape, en sorg vir die nasies!”

Daarom glo ek van ganse harte dat die Ekklesia van Jesus ’n mantel van ’n Josef dra om vir mense te sorg en om hulle in Jesus se Naam te dien. Soos wat ons soek na die Here en Sy wil vir ons eie tye van nood en uitdagings, is die Here besig om ons toe te rus deur Sy Gees vir ’n tyd soos dié.

Ons is geroep om ’n pad te maak waar daar vir lank geen pad was nie, en om boorgate te boor waar dit vir lank net woestyn was!

En omdat daar nie ’n pad was nie en daar ook nie genoeg water was nie, was hierdie tye ook vol vernedering en is ons daardeur nederig gemaak, want dit is wat tekort en die lyding wat daarmee gepaard gaan, veroorsaak.

Maar soos Rom. 8:28 belowe, het die Here dit ook gebruik in ons lewe as Sy volgelinge, om seën, insig en wysheid aan ons te bedien vir waarmee Hy ons nou vertrou.

Daar is ook ’n dringendheid in God se stem as Hy ons in hierdie tyd opdrag gee om Josef-strukture van voorsiening op die been te bring.

Rondom ons is die vyand besig om sy eie agenda teen ’n spoed van witlig te dryf deur mense in sy diens wat nie huiwer om die nasies en mense om hulle te verkoop en te besteel nie. Ja, uiteindelik sal mense op aarde moet kies in wie se diens is hulle en watter koninkryk dien hulle.

Daarom het elke volgeling van Jesus in hierdie seisoen ook bonatuurlike insig en wysheid nodig.

Maar God se belofte is dat elkeen wat die waarheid soek, sal gelei word deur God se Gees in hulle.

Maar diegene wat rondhardloop en gedryf word deur vrees, of gierigheid, of ’n honger na mag, gaan hel in elke sin van die woord beleef wat vir elkeen van hulle lê en wag!