Soos gewoonlik het ek weer die Here vertrou vir ʼn woord vir Sy mense vir hierdie seisoen waarin ons tans is, en spesifiek, omdat ek in Suid-Afrika woon en meestal hier bedien, wat Sy hart spesifiek vir ons is.
Daarom is daar in my hierdie dringendheid om dit wat ek gehoor het, in die volgende paar weke met jou te deel.
Die meeste gelowiges oor die wêreld herinner mekaar in Desembermaand aan die geboorte van Jesus, alhoewel die navorsing aantoon dat God die Seun, Jesus van Nasaret, in September 3 v.C., gebore is.
Voor ek hieroor verder gesels, kom ek herinner jou net eers aan gebeure wat op 12 April 30 n.C., in Jerusalem plaasgevind het.
Lees saam met my Johannes 20:19 e.v.
“Dit was al laat die aand op daardie eerste dag van die week.
Die deure waar die dissipels vergader het, was gesluit uit vrees vir die Jode. Jesus het toe gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”
En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was verheug toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. ” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: “Ontvang die Heilige Gees! As julle mense se sondes vergewe, is dit hulle vergewe; as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.”
Vrede is op aarde en in elkeen van ons se lewens op aarde moontlik, omdat God die Seun in Jesus ʼn mens geword het. Ja, omdat Hy deur dit wat Hy deur Sy lewe, Sy kruisdood, en Sy opstanding gedoen het, SHALOM, moontlik gemaak het.
Dit is wat die engele met Sy geboorte oor Hom geprofeteer het daar in Lukas 2.
“Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle 'n goeie boodskap wat vir die hele volk 'n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal 'n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.”
Skielik was daar saam met die engel 'n hemelse menigte wat God loof:
“Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het! ”
Hoor jy, vrede is op hierdie stukkende aarde en in my en jou lewe moontlik!
Maar alleenlik in diegene se lewens wat kies om hierdie boodskap van die engele te glo! Ja, wat hierdie Jesus leer ken, en Hom aanneem as Verlosser en Here ook in hulle lewe.
Dan kom woon Sy Gees in hulle as Sy mense, wat hierdie Evangelie begin glo het. Galasiërs 5 verduidelik verder dat as Hy ons lewe beheer, dan sal ander mense ook in ons die vrug en karaktertrekke van Jesus herken en ook hierdie SHALOM en sy uitwerking in ons herken!
Hoor dan hoe Jesus, soos daar in Johannes 20 vir Sy destydse dissipels, ook vir jou sê: Vrede vir julle!
Ja, Hy het gekom, gesterf aan die kruis, sodat daar ook vir jou vrede (Shalom) in elke sin van die woord, moontlik en beskikbaar is!
As jy net dit wil glo! As jy net dit wil aanneem in geloof!
Wanneer jy dit aangeneem, en ook glo dat Hy dit ook vir en in jou kan doen, kan Hy jou stuur na ander toe om ook aan hulle hierdie goeie nuus te gaan verkondig!