Gaan lees net weer wat ek verlede keer vir jou oor “jubilee” vertel het.
Laas het ons mekaar herinner dat die Here in Sy Woord vir ons sê dat “jubilee”, God se genade-jaar, in Jesus in elke gelowige volgeling se lewe kan gebeur! Vandag wil ek jou in die oë kom kyk en vir jou sê: Laat Hom toe om deur jou dit nou ook aan ander gelowiges rondom jou te bedien!
Wat ʼn voorreg om in diens van Koning Jesus ander te vergewe, vry te spreek, vry te maak, te genees, of deur die Here gebruik te word om in hulle lewe te voorsien, herstel en balans te bring, en tronkdeure oop te sluit!
Onthou jy hoe Petrus, nadat hy Jesus drie keer verraai het, teruggegaan het viswater toe omdat hy onseker was of restourasie ooit weer vir hom moontlik sou wees! Hy het gevoel hy het homself gediskwalifiseer vir bediening! Sy selfvertroue was daarmee heen!
Dan stap Jesus na Sy opstanding uit die dood sy lewe binne en vergewe en restoureer hom! Ja, Jesus kom promoveer hom selfs tot leier van die Twaalf ander dissipels!
Alles, alles, alles, uit genade!
Dit is wat “Jubilee” is!
Dit is alles uit suiwer genade en nie die gevolg van enigiets wat ons kan doen nie. Dit is alles net God, net Jesus, en op grond van Sy genade aan ons!
Miskien voel jy soos ʼn Petrus om die een of ander rede! Hoor dan vandag die profetiese woord van die Here aan en oor jou lewe en bediening: Jesus wil vandag jou “Jubilee “wees! Hy staan vandag voor jou en bied uit genade al hierdie geskenke vir jou aan: Vergifnis, vryspraak, restourasie in elke sin van die woord, en ja, selfs ʼn nuwe bediening met meegaande salwing vir die nuwe seisoen wat vir jou voorlê!
Kan ek jou ook op hierdie punt herinner dat God se genade, Sy vergifnis, Sy restourasie in jou lewe, nie net beteken dat God jou vergewe en die hemel se deure weer vir jou oopgesluit het nie! Nee, hierdie genade beteken ook dat die Here totale herstel wil gee waar sonde, die vyand, en hierdie stukkende wêreld en wêreldse sisteme jou besteel en verkleineer het!
Die boodskap dat Jesus ons “Jubilee “is, is dus ʼn boodskap aan elke gelowige volgeling van Jesus wat uitgebrand, sonder hoop, en sonder ʼn toekomsvisie tans voel.
As jy my nog nie hieroor glo nie, gaan lees weer Levitikus 25, Jesaja 61, en Johannes 21, en hoor wat sê God se Gees self aan jou!
Kies vandag net weer ʼn keer om dit te glo, en vra Hom om jou te gebruik om dit ook aan ander te bedien!