Laas het ons gesels oor die “dood” en “doodsheid” wat ingetree het as gevolg van die mens as ’n vry-wil-wese gekies het om te rebeleer en te sondig teen die wil in van Sy Skepper!
Die heerlike klanke van die Evangelieboodskap is dan juis dat wanneer ek en jy, in die woorde van Jesus in Johannes 3, “opkyk” in geloof na die Een wat hang aan die kruis, daardie oomblik kom God se Gees, daar waar ons nie kan sien met ons gewone oë nie, en bring “lewe”!
Ja, die mens wat voorheen “dood was”, word deur die werking van God se Gees, “wederbaar”, nuutgemaak, en so deel van ’n nuwe skepping wat plaasvind (kyk o.a. na wat daar in 2 Kor. 5:17 in die verband staan).
Daarom gaan Efesiërs 2, van vers 4 af, voort en sê die volgende:
“Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!
Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
Daarom staan daar in Kol. 2:13-15:
“Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.
Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.”
En in Heb. 2:14 en 15:
“Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.”
Kom ons gaan kniel weer voor die Een wat Sy lewe gegee het sodat die Vader aan ons “nuwe lewe” kon gee, en loof en prys en dank Hom vir wat Hy vir en namens ons gedoen het!
Dankie, Koning Jesus! Aan U al die lof en die eer!