“Ewige lewe” beteken nie net om hemel toe te gaan nie! (Deel 7)

Kom luister saam na nog ʼn Ou Testamentiese profetiese woord oor hierdie nuwe seisoen en wat in ons gaan gebeur deur die werking van God die Gees.

Mag ek ʼn bietjie meer persoonlik wees?

Hierdie spesifieke gedeelte uit die Ou Testament is nog altyd deur die Here in my eie lewe gebruik om ʼn brandende hoop en verwagting in my aan die brand te hou.

Kom ek haal dit ook nou vir jou hier aan. En asseblief, Mens van God en volgeling van Jesus: Hoor wat die Lewende Here self vir jou hierdeur wil sê!

Die gedeelte is Esegiël 37, van vers 1 af en verder. Dit lui so:

Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in 'n laagte. Die laagte was vol bene. Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek 'n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie.

Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was 'n baie groot menigte. Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’ Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.”

So spreek die Here, Here!