“Ewige lewe” beteken nie net om hemel toe te gaan nie! (Deel 9)

Kom ons dink ’n bietjie saam oor wat Jesus alles kon bedoel toe Hy daar in Johannes 10 die volgende gesê het:

“Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

Wat ek ten minste uit hierdie woorde van Jesus verstaan, is die volgende:

Dat wanneer ons kies om met die leë hande van geloof, dit wat Jesus gedoen en gesê het, vas te gryp en kies om dit vir die res van ons lewe hier op aarde te glo, gaan daar letterlik hierdie “deur” na ’n nuwe lewe, en ’n lewe van oorvloed vir ons oop!

Ja, soos skape wat deur hulle herder gelei is na waar daar vir hulle voedsame weiding en genoeg skoon en kalm water is, so kom elke mens wat Jesus aangeneem het in geloof, werklik in elke sin van die woord tot rus en breek daar ’n vrede deur wat alle verstand te bowe gaan.

Iemand het dit eenkeer so in woorde probeer vasgryp: Hier binne in my was daar hierdie gat wat niks wat ek kon doen, ooit kon vul nie. Maar die dag wat ek werklik Jesus as my Verlosser en Here ontdek en in geloof aanvaar het, het alles verander! Dit het uiteindelik hierdie gat wonderbaarlik gevul en heelgemaak!

Wat ek verder ontdek het, was dat dit nie net beteken het dat ek nou vir eens en vir altyd seker kan wees van my verlossing, en dat God my vergewe en heelgemaak het nie, nee, maar dat daar soveel meer is as dit!

Het jy gehoor? Daar is soveel meer as net dit! Moet tog nie dink dat jy reeds alles ontdek en beleef het wat hierdie “lewe en dit in oorvloed” alles behels nie!

Nee, daar wag soveel meer vir jou, elke dag!

Wees jy maar net getrou en gedissiplineerd, en maak tyd vir stil word en vir fokus op Jesus! Dan gaan jy bewus word van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees daar by en in jou!

Wees jy dan maar net sensitief en luister met ’n oop en gewillige hart om Sy stem, die stem van God die Heilige Gees te hoor.

Ja, dan gaan jy die wonder beleef om die teenwoordigheid van die Lewende God, reeds hier op aarde, midde al die stukkendheid, te belewe elke dag!

Ja, en dit is alles moontlik in Jesus, deur die werking van die Heilige Gees.