“Ewige lewe” beteken nie net om hemel toe te gaan nie! (Deel 14)

Ek het die afgelope tyd ontdek hoe belangrik dit is om net weer ’n slag terug te staan en asof van nuutsaf na te dink oor hierdie wonder wat in elkeen van ons as gelowige volgelinge van Jesus gebeur het.

Onthou jy nog daardie eerste dag van jou “nuwe lewe”, toe jy vir die eerstekeer werklik tot bekering gekom het? Waar jy was en hoe dit gebeur het?

Hoe goed onthou ek dit nie! Daardie Vrydag, die 10de Oktober 1969, toe Willem Brits, my CSV-kringleier, vir ons in sy CSV-kring gevra het: Is jy seker dat as jy vandag sou sterf, jy in die hemel toegelaat sou word, en waarom?

Wat sou jy antwoord as jy daar gevra word: Waarom moet God jou toelaat in die hemel?

En toe het hy die Evangelieboodskap aan ons verduidelik oor waarom God die Seun, as Jesus van Nasaret gewoon mens geword het en aan ’n kruis kom sterf  het.

Ek het huis toe gegaan en hieroor gaan nadink. Daar, op ’n stil plekkie – wat maar baie skaars was in ’n huis met 5 seuns – het ek besef dat al het ek in ’n goeie Afrikaanssprekende Christelike huis groot geword, waar ons baie gereeld kerk toe gegaan het, was ek in die lig van wat God in Sy Woord sê, totaal verlore en op pad hel toe!

Ek het ook beleef hoe Jesus self daar voor my staan en die genade-geskenk wat Hy deur Sy lyding en dood ook vir my bewerk het, na my uithou. Ek hoor Hom vandag nog sê: So lief het Ek ook vir jou gehad dat Ek dit ook vir jou gedoen het. Dé, vat dit met die leë hande van geloof ook vir jou!

Daar het ek dit gevat en op grond van Sy Woord en Sy beloftes aan my, van daardie oomblik af seker geweet  dat ek ‘n kind van God was!

Of soos Gal. 2:16 sê: “Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.”

Daarom is ek vandag nog seker hiervan. Nie op grond van die feit dat ek ʼn goeie lewe probeer lewe, of gereeld kerk toe gaan, of probeer om God se wette elke dag na te kom nie. Nee, ek is seker van my kindskap en dat ek ook die “nuwe lewe” ontvang het.

Mettertyd het ek ook ontdek dat God self in my woon deur die Heilige Gees. Ja, dat ek nooit alleen gaan wees nie. God self, Jesus self, woon in my deur God die Gees.

Of, soos daar in Gal. 2 verder staan: “… en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Vandag begeer ek wel dat dinge daardie dag van my bekering, na die tyd, anders en meer Bybels sou gebeur het!

Ja, dat ek toe reeds die ware plek van die doop in water ontdek en besef het! Ja, dat ek daardie dag wat ek tot bekering gekom het, deur gelowiges geneem kon word na water toe, om daar gedoop te word in die water.

Om daar te kon hoor:

”Ja, vir jare was jy dood as gevolg van jou sonde. Maar nou, omdat jy gekies het om die boodskap van die Evangelie te glo oor wat Jesus ook vir jou kom doen het aan die kruis en deur Sy dood, het God se Gees nuwe lewe aan jou bedien en jou wederbaar om ʼn nuwe mens met God se lewe in jou, van nou af te wees.

Ja, Jesus woon self in jou deur Sy Gees.

Ja, en om dan te beleef hoe God se mense hulle hande op jou lê en daar vir jou bid: Here Jesus, dankie dat U nie net ons Verlosser en Here is nie! U is ook die Doper met die Gees! Kom nou en doop hierdie nuutgebore kind van U met die Gees! Dankie dat U Gees reeds in hom woon. Kom rus hom nou toe met die gawes van die Gees waardeur U ook deur hom wil werk in sy lewe voorkant toe.

Gebruik hom dan soos U wil sodat U Naam geheilig kan word, U Koninkryk kan kom en U wil ook in en deur sy lewe kan geskied! Dankie, Here Jesus, dat U dit ook in hom gedoen het, soos U belowe het daar in Lukas 11:13.”

Goddank, dat ek en die res van my gelowige gesin, op daardie Saterdagoggend van die 9de Oktober 1993, ook as gelowiges Bybels gedoop kon word! Prys Sy Naam vir Sy genade!