Kan jy glo dat ek al 16 keer oor dieselfde saak maar van verskillende kante af met jou gesels! As jy my sou vra: Help my en som vir my in een of twee sinne op wat jy die afgelope tyd vir my probeer sê het?
Dankie dat jy gevra het. Kom ek probeer.
Ek is oortuig dat 1 Kor. 10:31 dit baie mooi saamvat.
“Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”
As volgelinge van Jesus leef ons nie net in die hoop om eendag, na ons dood, hemel toe te gaan nie. Elke dag en elke minuut van elke dag wat ons hier op aarde leef, is van kardinale belang, ongeag wat ons doen of waar ons ons bevind.
As gelowige volgelinge van Jesus, beleef ons immers reeds God se teenwoordigheid (soos in die hemel) in en rondom ons. Ons is reeds hier op aarde kinders van die lewende God, en erfgenaam van alles wat aan ons Hemelse Vader behoort. Daarom moet ons tot Sy eer en in diens van Sy koninkryk, soos Hy ons deur Sy Gees lei wat in ons is, om elkeen daar waar Hy ons geposisioneer het en waarmee Hy ons vertrou het, alles verantwoordelik te bestuur en te benut.
Daarom is daar nie meer sekere van ons as gelowige volgelinge van Jesus, wat “voltyds in diens van die Here” is, terwyl ander van ons maar net “besig is met die gewone dinge” nie!
Ons is almal voltyds in diens van ons Here en Koning, ongeag wat ons doen en mee besig is, of waar ons ons bevind! Oral waar ons beweeg en ongeag wat ons doen, doen ons en is ons Ambassadeurs van die Koninkryk van die Hemel hier op aarde.
Vir my is dit so merkwaardig en inspirerend om te weet dat elkeen van ons verteenwoordig 24/7 die Koninkryk van die Hemel hier op aarde! Daarom het ons die afgelope tyd mekaar aangespoor om elke dag voluit te lewe. Ons kan nie bekostig nie om maar net elke dag te sit en wag om “eendag hemel toe te gaan nie”!
Veral nie as ons besef dat ons lewe hier op aarde deel is van die “lewe” en “ewige lewe” wat ons s‘n is in Christus Jesus. Ons hoef dus nie daarop te sit en wag tot eers eendag, na ons dood, nie!
Daarom beklemtoon God die Gees deur die Woord aanmekaar dat die lewe wat ek en jy reeds hier op aarde lewe, wat in ons is en wat sigbaar moet word 24/7, die lewe van Christus Jesus in my en jou is!
Daar waar ons “onder die beheer van die Gees van God” leef en doen soos en wat Hy vir ons lei om te doen, sien en beleef mense iets van Jesus in ons.
Daar, sê Gal. 5:22 en 23, sien en beleef mense die karakter en liefde van Jesus as hulle met ons te doen het, en hoor wat ons te sê het.
Soos Gal. 5:22 en 23 dit so treffend sê:
“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”