Ons praat daaroor dat hierdie lewe wat ons as gelowige volgelinge van Jesus dag vir dag lewe, deel is van die “ewige lewe” wat ons in Jesus ontvang het.
Besef jy egter dat “ewige lewe” beteken ONS GAAN VIR EWIG LEWE! Ons, die gees-mens wat die Bybel sê ons is, gaan nooit-ooit dood nie!
Kom ons teken ʼn prentjie hiervan wat ons plat-koppies kan verstaan!
As ons ʼn 100 meter tou sou vat as ʼn prentjie van hierdie “ewige lewe” wat ons nou in Jesus het, dan is ʼn lewe van 70-80 jaar hier op aarde seker nie eers 10 cm van hierdie stuk tou nie!
Dit beteken verder dat ek en jy nou besig is om hierdie stukkie van sowat 10 cm te lewe!
Help hierdie prentjie jou ook om net ʼn bietjie perspektief oor alles te kry? Besef jy hoe kardinaal belangrik word hierdie 10 cm-lewe wat ons hier op aarde lewe!
Besef jy ook dat alles wat ons hieroor gesê het, waar is van elke mens op aarde, ongeag of hulle gelowiges is of nie! Die enigste verskil is egter dat die keuses wat ons elkeen hier op aarde gedurende hierdie 10 cm-lewe hier op aarde maak, uiteindelik sal bepaal waar daardie mens die orige deel van hierdie “ewige lewe” gaan deurbring!
Hoe belangrik word elke dag van ons lewe hier op aarde dan? Hoe belangrik word elke keuse wat ek maak gedurende hierdie kort stukkie lewe dan?
Dit is waarom ek elke dag hier op aarde sal lewe asof dit my laaste dag op hierdie aarde mag wees.
Soos 1 Kor. 10:31 dit so treffend sê: “ Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”
Of soos Mat. 6 sê: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
En verder: “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
Daarom staan daar ook in daardie selfde hoofstuk 6 in Matteus: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”
So word elke dag wat ek met hierdie “ewige lewe”-perspektief leef, net nog ʼn dag wat ek met alles wat ek doen, dink en sê, “belê” in ʼn ewige bankrekening, wat nie net in my eie lewe dividende gaan lewer nie, maar ook in die lewens van almal rondom my!