As die Liggaam van Jesus illustreer en bedien ons die lewe van Jesus

 

Daar is min dinge wat vir my so hartseer is as ʼn mens wat nie ten volle in beheer is van sy hele liggaam nie. Om te sien hoe iemand se ledemate buite beheer reageer, ja, selfs tot hulle verleentheid, of om te sien hoe liggaamsfunksies onbeheers plaasvind, vind ek hartverskeurend.

Daarom kan ek my net indink hoe Jesus van tyd tot tyd moet voel oor Sy Liggaam, die Ekklesia, wat die meeste van die tyd totaal buite beheer en beserk aangaan.

In plaas daarvan dat ons lewe en heling bedien aan ʼn lewelose en siek wêreld om ons, is ons berug oor stories wat op die agterblaaie van Sondagkoerante en in die Huisgenoot verskyn. Ja, ons word bekend vir die dinge waarteen ons is of waar ons presies die teendeel is van wat ons Here en Koning deur Sy lewe en in Sy woorde verkondig en geïllustreer het.

Jesus word in Sy Woord beskryf as die Hoof van Sy Liggaam, die Ekklesia. Om Sy wil te laat geld of te laat gebeur van dag tot dag in ons wêreld, moet 2 Kor. 1:20 se “Amen” van Sy Liggaam se kant af, Sy wil soos dit reeds geld in die hemel, laat deurbreek en laat realiseer hier op aarde.

Dit wat ons in daardie jare 3 v.C. tot 32 n.C., in die lewe van Jesus en uit die mond van Jesus gehoor en gesien het – genesing, bevryding, empatie, omgee, heiligheid, heerlikheid – kan net hier op aarde realiseer as dit deur ons as die tuinslange hier uitvloei!

Sonder dit is daar gedurigdeur hierdie onklaar openbaring van wat God se wil en hart werklik hier op aarde en in die besigheidswêreld is.

Mense gaan alleenlik bewus word van hoe lief God hulle werklik het, as hulle sien en beleef hoe lief ons hulle het.

Daarom wil ek ʼn bietjie verder gesels oor wat God se wil is en spesifiek soos ons dit in die lewe van Jesus gesien het.

Ek wil die stelling maak dat die genade en liefde wat Jesus bedien het hier op aarde, altyd toegerol was in waarheid.

1 Joh.1:14

In Johannes1:14 lees ons die volgende oor Jesus se bediening daardie drie jaar, van 28/29 n.C. tot 32 n.C.:

“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Ons het reeds ʼn paar kere gesels oor die genade wat mense in Jesus se lewe, woorde en handelinge in oorvloed beleef het. Vandag wil ek gesels oor die feit dat dit genade was wat altyd ook ʼn element van “waarheid” bevat het.

Veral in sekere kontekste. Soos as Hy met mense besig was wat beter behoort te geweet het. Soos die tempelleiers van Sy tyd. Wat elke dag met God se Woord besig was en presies behoort te geweet het wat daarin staan.

Of ʼn Petrus, wat duidelik een van die drie leiers was onder Jesus se dissipels, wat geweet het hoeveel keer Jesus geprofeteer het dat Hy uiteindelik Jerusalem toe moet gaan om daar gekruisig te word en te sterf. Tog waag Petrus dit om Jesus in die rede te val en dit selfs te probeer verbied!

Of toe Petrus in sy voortvarendheid, daar in Johannes 18:10, terwyl Jesus gevange geneem is, sy swaard uitgetrek het en die dienaar van die hoëpriester se oor afkap. Dan bedien Jesus genade en genees daardie dienaar se oor (Luk. 22:50,51), maar vir Petrus sê Hy streng: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Net so het Jesus ʼn dag of wat tevore vir dieselfde Petrus profeterend gewaarsku dat hy met al sy bravade, wanneer die tekkie die teer slaan, tydens Jesus se verhoor net voor Sy kruisiging, nie net een keer of twee keer nie, maar drie keer Jesus gaan verloën! Net om direk daarna hom met genade te bedien as Hy vir hom sê: “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” (Luk. 22:31,32)

Ek glo hierdie element van waarheid waarin Jesus as Koning en as Seun van God, genade toegerol het, is ook van kardinale belang vir die genade waarmee God wil hê dat ons as Sy volgelinge en as ambassadeurs van die Koninkryk van die hemel mense ook in die markplein moet bedien.

Ek glo dat hierdie element van waarheid te make het met die feit dat al is ons God en Koning ʼn genadige, liefdevolle, goeie God en Koning, bly Hy steeds ʼn heilige God en Koning. Daarom kan Hy nooit anders as om sonde, die gevolge van sonde, ongehoorsaamheid aan Sy Woord, ongeloof, twyfel en enige optrede wat in stryd is met Sy wil en plan, af te keur en in waarheid te bedien nie.

Een van die duidelikste optredes van Jesus in hierdie verband was toe Hy in daardie laaste week van Sy drie-jarige openbare bediening daardie totale verval op die tempelterrein sien afspeel het. Toe Hy net weer die korrupsie en diefstal van kerkleiers daar gesien en besef dat hierdie wanpraktyk letterlik die worteloorsaak is van die totale armoede onder die Joodse volk, het Hy ʼn sweep gevleg en in waarheid onder hulle ingevaar, banke met geld omgegooi en links en regs geslaan om hierdie mense in diens van Mammon, weg te kry van ʼn plek wat eintlik, in alle waarheid, ʼn plek van gebed behoort te wees.

Maar selfs midde dit alles, sien ons ook die element van genade, as Hy nie die tafels met die hokkies met die duiwe in omgooi nie en eerder die duiweverkopers vra om dit weg te vat! (Luk. 19:45 e.v. en die ander relevante gedeeltes in die Evangelies hieroor).

Sien, reg bly reg en verkeerd en sonde bly sonde!

Joh. 3:16-18

Daarom, al bedien Jesus genade en liefde aan almal, en al sê God se Gees in 1 Tim. 2:4 dat dit God se wil is dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid sal kom, verkondig Johannes 3:16 tot 18, wat seker die bekendste verse in die Nuwe Testament is, ook hierdie genade toegerol in waarheid as daar staan:

“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”

Ja, al is die Evangelie ʼn genade-boodskap oor die Koninkryk van die hemel wat oral hier op aarde deurbreek, is die waarheid-kant daarvan dat ʼn ewige oordeel en ʼn hel met sy ewige smarte wag vir diegene wat nie uiteindelik gaan buig voor die Koning van alle konings nie.