Ons Storie

Image

Ek het op 10 Oktober 1969 tot bekering gekom in ʼn tipies Afrikaanssprekende huisgesin. Toe teologie gaan swot en in 1978 klaar gemaak met my studies.

Ek en my vrou, Hetta, is in 1977 getroud nadat ons mekaar ontmoet het tydens ons studies op UOVS. Ek was toe in my tweede laaste jaar Teologie op Stellenbosch-Kweekskool en sy was onderwyseres by Kuilsrivier Hoërskool.

Oorspronklik is ek ‘n gebore-en-getoë Pietermaritzburg-er, terwyl sy daar uit Kanoneiland-Keimoes se wêreld kom.

Ons het sedertdien twee dogters, Marilene (gebore 1982) en Christelle (gebore in 1985) uit God se hand ontvang en geniet hulle uniekheid elke dag.

Vir 14 jaar het die Here my as predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk gebruik om van Sy kinders en andere te bedien.

Toe begin die Here my met “nuwe wyn”-waarhede bedien: Eers oor die Heilige Gees, Sy werk en Sy gawes, toe oor die doop as ʼn bediening net aan gelowiges en later het die Here met my begin gesels oor Sy Liggaam, en dit wat ons “kerke” noem.

In 1993 daag die Here my en my gesin uit om in geloof Hom te vertrou om ons wyer as net die Nederduitse Gereformeerde Kerk binne Sy Liggaam te gebruik en dan baie spesifiek om vernuwing te bedien aan hoofsaaklik Afrikaanssprekende mense met ʼn tipies tradisionele Afrikaanse agtergrond.

Die groep mense waarop die Here my spesifiek laat fokus het, is mense wat nie meer heeltemal gemaklik inpas in die tipies tradisioneel kerklike opset nie, of dit nou NG, of selfs Pinkster of Charismaties, is.

Sedert einde 1993 gebruik die Here my op hierdie manier in Ned Geref.-gemeentes, VGK-gemeentes, Pinkster- en Charismatiese gemeentes, en vernuwings gemeentes, om vernuwing te fasiliteer.

Steeds is die Here ook met my persoonlik in die proses besig. Elke dag ontdek ek hoe my eie “teologie” verander.

So is die Here tans besig om met my te praat oor eenheid in Sy Liggaam. Beter as ooit verstaan ek dat al hierdie gepraat van ons van “kerk” en “kerke” nie werklik Bybels is nie, want Jesus se Liggaam is een.

Ek verstaan deesdae ook soveel beter dat Sy Liggaam uit verskillende geloofsfamilies (Ekklesia of gemeentes) van verskillende groottes bestaan, maar dat hulle in werklikheid deel is van een groot familie. Hulle moet net leer om as ʼn effektiewe groter familie-eenheid te funksioneer.

Ek verstaan ook baie beter hoe die bediening spanne van Ef. 4:11 tot 16 bedoel is om, soos ʼn effektiewe immuun- of bloedsomloop-stelsel, die Liggaam van Jesus toe te rus vir hulle bediening, as enkelinge en as families, onder mekaar en in die wyer gemeenskap.

Vir meer as 25 jaar gebruik die Here my en Hetta as leiers en leraarspaar binne lokale gemeentes. Tans beleef ons dat Hy ons nou wil trans lokaal gebruik, oor gemeente- en kerk grense heen, in alle dele van die Liggaam van Jesus Christus en spesifiek om om Bybelse vernuwing en meer effektiewe eenheid tussen verskillende dele van die Liggaam te fasiliteer.

Die ervaring wat ek deur God se genade opgedoen het in die meer as 14 jaar as leraar in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in 2 gemeentes, Dunnottar en Potchefstroom-Mooirivier, en daarna in die meer as 11 jaar wat ek Bybelse vernuwing aan Afrikaners bedien het, is goud werd in hierdie nuwe geestelike seisoen in ons lewens.

Dwarsdeur die land, en veral hier in die Wes-, Suid– en Noord-Kaap, is daar duisende gelowiges en gemeente leiers wat aanvoel dat die Here besig is om Sy Liggaam uit te daag met Nuwe Wyn-waarhede.

Image

In Lukas 5:37 tot 39 het Jesus tereg gesê: “En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen. Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word.”

Dit is wonderlik om te beleef hoe my ervaring en kennis van beide die Gereformeerde teologiese wêreld en dit wat tans in vernuwings gemeentes die sterkpunte en die behoeftes is, deur die Here gebruik word om ʼn soort Nehemia-figuur vir mense te wees. Wat werklik gelowiges in alle dele van die Liggaam aan te moedig om die gate “in die mure” te herstel en saam te ontdek dat eendrag werklik mag is tussen al die verskillende gemeentes in dorpe en stede.

Dit is ook wonderlik om langs die pad ander te ontdek wat deel is van ʼn hierdie nuwe soort leier spanne wat oor kerk grense heen tans trans lokaal gelowiges bedien om hulle te help om God se hart vir hulle te ontdek.

Ef. 4: 11-16 spel dit treffend uit: “En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ʼn volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ʼn eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”