Toegerus vir Diens

Ef. 4:11-16

Hy het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. 

Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. 

So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen. 

Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie. 

Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op.

In die Liggaam van Jesus Christus is dit die opdrag van Jesus Christus, die Hoof van die Liggaam, dat Sy gestuurde leiers in die gemeentes Sy mense sal toerus vir hulle bediening.

Daarom is dit vir Dr. Christo en Hetta Nel 'n wonderlike voorreg om op hierdie webblad gelowiges toegang te gee tot toerustings materiaal van Nuwe Wyn-bediening en verskeie ander vennote.

Na 'n bediening van meer as 14 jaar as leraars paar in die NG Kerk, en meer as 19 jaar daarna in alle dele van die Liggaam, het dit al hoe meer duidelik geword hoe noodsaaklik geskikte toerusting materiaal was wat God werklik kon gebruik om 'n nuwe geslag leiers en toegeruste volgelinge van Jesus Christus voor te berei vir dit wat God vir nou ingedagte het.

Baie van hierdie materiaal gaan letterlik "nuwe wyn" wees, wat niks anders as ou Bybelse waarhede is wat God se Gees vars en nuut tans aan Sy mense bedien nie. En hier dink ons aan die noodsaak van 'n ware Bybelse wedergeboorte en bekering, geloof in Jesus Christus en Sy verlossingswerk, doop in water en doop in die Gees. 

Dan is dit ook van groot noodsaak dat God se mense sal leer om Sy stem te hoor en dit te leer gehoorsaam.

Dit is dus van lewensbelang dat gelowiges gehelp sal word om die Skrif reg te lees en reg te interpreteer.

Om deel te wees van 'n gelowige familie volgelinge van Jesus daar in jou direkte omgewing, waar die volle waarheid van die Woord bedien word, en daar ruimte is vir Jesus, as die Doper met die Gees, om self Sy mense deur die gawes van die Gees te kan bedien, is 'n Bybelse opdrag.

Op hierdie fondasie kan daar dan verder gebou word in elke gelowige se lewe, klein en groot en kan elke gelowige ontdek en geleer word dat Jesus Christus ons elkeen wil gebruik as Sy medewerkers om Sy Koninkryk te laat kom, ook daar waar Hy vir ons 'n platform gegee het. Daar kan ons Sy getuies wees en kan Hy deur ons werk.

Daar is so 'n behoefte aan 'n toegeruste nuwe geslag leiers in en vir die Liggaam van Jesus, dat hierdie webblad ook hier 'n hele biblioteek van materiaal hier beskikbaar kom stel, maar ook via skakels na ander dele van die web 'n nog groter verskeidenheid tot elkeen wat 'n behoefte daaraan het beskikbaar kom stel.

Vir 'n lys van die materiaal wat beskikbaar is klik op enige van die twee skakels hieronder.

Mag Jesus Christus dit self gebruik om Sy mense te lei na geestelike volwassenheid en meer effektiewe dienslewering.

Vir verdere inligting in die verband, kontak gerus Dr. Christo en Hetta Nel via epos by nchristo@lantic.net of via hulle selfoon by 082 7702397. Hulle woon in Somerset-Wes in die Wes-Kaap.

Laai e-boeke af

In die e-boeke afdeling
is daar toerusting wat ons graag deel!

Besoek ons winkel

is daar Boeke, e-boeke en DVD-stelle beskikbaar!