In die skool van die bonatuurlike in die markplein

 

Ek weet nie of jy ook soms so sukkel om te glo as die “popo die fan” tref daar op die markplein nie!

Ja, daardie dae as die syfers net nie wil klop nie, of as ʼn lewensbelangrike transaksie net nie wil deurbreek nie, of as daardie onontbeerlike stuk masjinerie op die mees ongerieflike tyd skielik breek!

Blaai saam met my na Markus 6 toe om te sien hoe die dissipels van Jesus ʼn paar lesse in die verband, in die skool van die bonatuurlike op die markplein moes leer.

Lees jy self die verhaal in jou Bybel daar van Markus 6:31 af.

In vers 44 lees ons dat die dissipels in die Naam en diens van Jesus, daardie dag met vyf broodjies en twee vissies, 5000 mans (met ander woorde, heelwaarskynlik tussen tien en vyftien-duisend mans, vrouens en kinders) genoeg kos gegee het, sodat daar agterna, nog 12 mandjies brokstukke oorgebly het.

Dan lees ons hoe Jesus daardie selfde dissipels aansê om solank in die boot te klim en oor te vaar na Betsaida toe.

Jy ken die verhaal. Op die see breek ʼn storm uit en daardie dissipels moet roei en veg vir hulle lewe teen die stormwind tot vroeg dagbreek die volgende dag.

Dan lees ons in Markus 6:48 die volgende aangrypende vertelling hieroor:

“Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan.

Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ʼn spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.

Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie.”

Wat ʼn vreemde vers waarmee hierdie gedeelte eindig!

Wat op dees aarde beteken dit?

Die Ou Afrikaanse Vertaling help ons hiermee, want daar word wat in die Grieks staan, so vertaal: “Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was.”

Sien, ʼn mens kan alles in die Woord lees wat Koning Jesus vir ons leer oor hoe ons moet ruimte maak vir die bonatuurlike en vir die feit dat Hy vir ons as Sy volgelinge bonatuurlik toerus en bonatuurlike outoriteit en krag gee om in diens van die Hemel hier op aarde op te tree!

Ja, selfs al het jy gister bonatuurlike wonderwerke met jou eie oë gesien en self beleef het!

Maar as die “popo die fan tref”, wanneer jy in sekondes moet optree of ʼn beslissing moet vel, is dit asof jy terug is in Graad 1 van die Skool van die Bonatuurlike!

Soos die dissipels daar in Markus 6 op die see, na ʼn nag van veg teen die golwe, met die gewone toerusting soos seile en roeispanne soos vanouds, vergeet jy daardie tye die lesse wat jy gister geleer het oor die bonatuurlike wat moontlik is “in die Naam en diens van die Koning”!

Daarom kom jy met ʼn harde slag grond toe, want jou gedagtes is nog nie werklik vernuwe en getransformeer met die boodskap en les van die wonderwerke nie!

Daarom moet ons maar weer later verder leer dat… in diens van die Koning ... kan ons op water stap ... kan ons storms aanspreek en winde en golwe gaan bedaar en luister!

Met ander woorde, wat die dissipels nog nie verstaan het nie, was hulle eie rol in die kom en gebeur van die realiteite van die Koninkryk van die hemel hier rondom ons op aarde!

Volgende keer gesels ek met jou verder hieroor.