Die wêreld in Jesus se tyd

 

Kom ons kyk ʼn bietjie krities na die ekonomie in Israel in die jare 28/29 tot 32 n.C., toe Koning Jesus hier in die openbaar begin leer en optree het.

Wat ʼn mens ontdek as jy die Evangelies en navorsingsmateriaal oor daardie tyd deeglik bestudeer, skud jou tot in jou fondamente.

Dan sien ons hoe die leiers in die gemeenskap, of hulle nou godsdienstige leiers was of leiers in die regering, janalleman in Israel geplunder en besteel het totdat sowat 80 tot 90 persent van hulle brandarm en uitgehongerde slawe was.

Selfs mense wat geroem het daarop dat hulle deel was van God se godsdienstige volk, Israel, moes uiteindelik alles wat hulle gehad het verkoop en dit sluit eiendom, plase en selfs hulle kinders in, om hulle skuld aan, kan jy glo, die godsdienstige leiers van daardie tyd, te probeer terugbetaal.

Die tempelpriesters, die fariseërs, die Sadduseërs, met ander woorde, die godsdienstige leiers en leraars van die volk, was tot in hulle siel toe verrot en korrup en het hulle eie mense uiteindelik brandarm geplunder en besteel.

In hierdie gemeenskap en tyd is Jesus, die nuwe Koning op aarde, gebore, as lid van ʼn gesin wat, soos die res van die gemeenskap, brandarm was as gevolg van die plundering en misdaad van hierdie selfde mense.

Dit is waarom Jesus gedoen het wat Hy gedoen het, en gesê het wat Hy gesê het. Daarom was Sy eerste woorde aan hulle: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom, is hier!

Maar Jesus was ook nie naïef nie. Hy het onmiddellik gesien en geweet dat hulle nie gaan verander nie. Hulle het te veel gehad om te verloor. Hulle was beslis nie bereid en gereed om die gans wat die goeie eiers lê, sommer net weg te gee nie.

Daarom het Koning Jesus begin om baie strategies en met ʼn baie besliste plan op te tree.

Ek glo dit is die eerste ding wat enige sakeman of vrou, wat volgelinge is van die Koning van alle konings, moet weet: Ons het nodig om so gou moontlik ʼn baie besliste strategie vir die markplein te ontwikkel as ons enigsins iets van die Koninkryk van die hemel hier wil sien deurbreek. Dit is van lewensbelang vir die Koninkryk dat ons sigbare bewyse sal oplewer wat ons kan gebruik as getuienis dat die Koninkryk van die hemel besig is om hier op aarde deur te breek.

Dit is van kardinale belang as deel van ons getuienis na binne en veral na buite dat hierdie strategie sal insluit dat dit sigbare bewyse en resultate sal oplewer sodat die res van die ekonomiese gemeenskap rondom ons deeglik daarvan kennis sal neem terwille van die toekoms van hulle eie besighede.

Vriende, as ons werklik glo wat die Koning sê, moet ons ook kennis daarvan neem dat Hy ook vir die markplek gesê het: Ek het gekom dat julle die Lewe kan ken en dit in oorvloed! En dat hierdie Lewe en oorvloed beslis nie net vir Sy volgelinge betekenis en waarde het nie, maar ook vir elke besigheidsman of vrou, of ekonomiese instelling, of selfs vir elke regering van die dag, betekenis en waarde het. Dit is vir elke mens op aarde van lewensbelang!

Daarom, en daarmee wil ek hierdie gedeelte afsluit, kan ons nie langer bekostig om oor die koms van die Koninkryk van die hemel hier op aarde te gesels en te preek asof dit ʼn fantasieverhaal is en asof dit eers eendag, wanneer Jesus kom, werklik gaan gebeur en waarde gaan hê nie!

Kom ons wees net logies! Watter betekenis het die koms van die Koninkryk eers eendag, nadat Jesus Christus weer gekom het?

Dit is mos malligheid om so daaroor te praat en so daaroor te dink!

Die koms en werklikheid van die koninkryk van die hemel, as ʼn sigbare, ervaarbare realiteit, al is dit voorlopig, gebrekkig, onvolledig, onvolmaak selfs, het net betekenis en kan net mense se lewens, die ekonomie, besighede, ens., verander, as dit nou, hier midde al die stukkendheid van ons wêreld en hier in die nou op die markplein, begin deurbreek en sigbaar ʼn werklikheid word!