Laat My Mense gaan!

 

Ons is besig om die afgelope tyd te kyk hoe Jesus as die nuwe Koning, in die drie jaar tot Sy beskikking hier op aarde, die koninkryk en beheer van die magte van die hel baie strategies en bepland kom af te breek het.

So het Hy Sy woorde daar reg aan die begin hiervan, bevestig, naamlik: Bekeer julle, draai om, begin anders dink, kyk anders na dinge, doen dinge anders, want ʼn nuwe seisoen het hier aangebreek! Hierdie wêreld het ʼn nuwe Koning gekry.

Ons het reeds gesien hoe Hy stelselmagtig die hele korrupte Joodse tempel- en bankstelsel een stroompie na die ander, gaan toesteek het.

Natuurlik het Jesus ook direk gegaan vir die slagaar van ʼn demoniese korrupte ondier wat elke mens in die omstreke van Judea, Palestina en Galilea se lewe hel gemaak het. Omdat Hy die nuwe Koning was, sou daar vir elkeen van Sy volgelinge ʼn radikale lewenskeuse voorlê, naamlik wie het uiteindelik die finale sê in jou lewe! Ja, God stel elke owerheid aan en gee aan hulle outoriteit om in daardie gebiede waar hulle beheer het, te sorg dat alles ordelik, reg en regverdig sal gebeur vir elke mens onder hulle beheer. Dit het dus natuurlik ook vir die Romeine en Rome se bewind in daardie gebied gegeld. Maar daar waar hierdie regerings en hulle beleid in stryd kom met die beleid van die nuwe Koning, moet ons kies!

Met Sy dood aan die kruis, het Jesus gesê: Ek het nou met My bloed en lewe, die mag van sonde, die hel en al sy magte en gesante wat hy gebruik, se slagaar finaal kom afsny en die houvas en mag van hierdie sondige korrupte stelsel in hierdie wêreld op julle lewe te kom breek.

Dé, hier is ʼn sleutel, met die meegaande outoriteit, waarmee julle nou na elke mens op aarde kan gaan met die Goeie Nuus dat verlossing en bevryding moontlik is.

Ja, het Jesus gesê: Ek het gekom sodat daar vir elkeen lewe en dit in oorvloed in elke opsig en vir elke deel van jou lewe moontlik is. Ek het immers nou ʼn nuwe koninkryk hier op aarde kom vestig wat hierdie lewe en hierdie oorvloed belowe aan elkeen wat werklik kies om te glo dat Ek dit ook vir hulle gedoen het en wat gewillig is om My en My beleid, as die nuwe Koning, onvoorwaardelik gehoorsaam te volg!

So, op hierdie manier, met hierdie baie strategies gefokusde bediening, het Jesus ons begin leer hoe om korrupsie, bedrog, misdaad, alle gierigheid en selfgerigtheid, wat immers die wortels is van al die menslike ellende en lyding wat ons rondom ons vandag sien, aan te spreek.

Hier dink ons aan dinge soos mense in haglike armoede, dakloos, slagoffers van mensehandel, hongersnood, rassisme, en elke ander -isme uit die hel waaraan jy kan dink.

Dit is wat Jesus fisies hier op aarde kom aanspreek het en wat Hy ons nou stuur om as ambassadeurs van hierdie nuwe Koninkryk fisies te gaan aanspreek, daar waar die tekkie die teer tref, in die moderne markplek vandag.