God se manier skep altyd lewe en dit in oorvloed

 

Ek wil ʼn bietjie verder praat oor hoe die Here mense begin seën waar hulle die Koninkryk soek deur dinge te doen soos God ons beveel.

Lyk vir my daar is net een manier in die ekonomie om “wealth” te ontsluit en dit is om besig te raak en besigheid te doen.

Ek glo dit was ook ingesluit in die oorspronklike opdrag van God aan Sy mense daar in die begin in Gen. 1:26-28:

“Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.’

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.’”

Geen hoeveelheid goud of olie kan volhoubaar “wealth” skep of ontsluit nie. Dit is alleen daar waar ons as mens hierdie goud of olie begin gebruik, dit benut en besigheid daarmee doen, wat dit kan begin gebeur.

Natuurlik gaan dit dan oor die manier hoe ons die goud, of olie, of wat ook al betrokke, begin gebruik, benut en daarmee besigheid doen. As ons so besigheid doen waar ons al die wins vir ons alleen vat en ons niks vir die partye met wie ons besigheid doen op die tafel laat nie, is die uiteinde altyd armoede. Dit is dan wanneer iemand in die proses benadeel word en waar dit voel asof daar net nie genoeg vir almal betrokke is nie.

As ons dit egter regkry om in elke transaksie alles tot voordeel van almal betrokke te doen, deur om te gee vir mekaar en deur bereid te wees om die wins te deel, en ook nog om te sien na die planeet en sy behoeftes om ons, soos wat dit goeie bestuurders van planeet aarde hoort, dan gebeur daar iets merkwaardig. Die mense betrokke beleef dan lewe en seën.

Deel van die lewe en seën wat God dan in die proses gee waar dit volgens Sy Woord gebeur, is dat daar ook iets met die mense betrokke begin gebeur: Hulle word in die proses opgebou en bemagtig, in plaas dat hulle verarm soos in die meeste transaksies in die verlede met hulle gebeur het.

Die seën en oorvloed wat God gee in antwoord op gehoorsaamheid, is natuurlik ʼn merkwaardige goeie advertensie vir jou besigheid!

Daar waar ek en jy besigheid op die Koninkryk se manier doen, soos ons by Jesus geleer het, en daarmee aanhou, begin trek ons nuwe kliënte soos nooit vantevore nie en beleef ons hoe ander besighede in rye begin staan om met ons besigheid te doen. Almal sien immers die vrug en seën wat volg waar volgelinge van Jesus gehoorsaam hulle Koning en Sy styl volg, ook daar in die markplek.

Dit volg daarom natuurlik dat hierdie stories oor wat die gevolg was in ons besigheid toe ons dinge begin doen het soos die Here ons aangesê het, deel moet wees van ons verhale na buite toe.

Hoe kan dit dan anders? Dit was immers juis die vrug en seën wat gevolg het omdat ons God se manier en die styl van Koning Jesus gevolg het, waarom mense graag met ons wil besigheid doen, en waarom daar sigbare sukses gevolg het.