Kom op daardie plek deur die boodskap van die kruis (deel 1)

 

My vrae aan jou is: Hoe ontwikkel ek as volgeling van Jesus daardie “dik bene” wat my kan orent hou? Wat help my om balans te handhaaf wanneer die popo die fan tref en alles wil uitmekaar val? Of, aan die ander kant, wanneer die Here die sluise van die hemel op my, my huwelik, my gesin, my besigheid en my boerdery ooptrek?

Die Gees van God teken hierdie proses van verandering op baie maniere. Gaan lees maar gedeeltes soos Rom. 12:1,2; of die tyd van beproewing waarvan 1 Pet. 1:6-9 praat; of dat ons moet deel kry aan die lyding van Christus; of as ons deur daardie Getsemane-tye gaan waar ons alleen voor God worstel, en uiteindelik ons kruis toe neem om daar te gaan sterf, voordat daar ook ʼn dag van opstanding in ons lewe kan volg.

Die gedeelte wat ek gekies het om met jou hieroor te praat is dit wat daar in Gal. 2:19 en 20 staan.

Gal. 2:19,20

“… ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Ek hoor in hierdie verse God sê dat enige verandering en transformasie wat in my lewe as gelowige volgeling van Jesus moet plaasvind altyd aan die voet van die Kruis begin gebeur.

Stap 1 – Daar ontdek ek weer hoe Jesus daardie dag, die 9de April 32 na Christus, ook vir my en my sondes gekruisig is.

Die 9de April 32 na Christus, was daardie jaar ʼn Woensdag, en dit was die Woensdag voor die Joodse Pasga wat daardie Woensdagaand 18h00 tot die Donderdagaand 18H00 gevier sou word.

Daar aan die voet van die kruis moet ek myself herinner dat Jesus daar gehang, gely en gesterf het vir my, vir my lewe en vir my sondes, om so die straf wat ek eintlik moes dra, vir en namens my te dra.

Sodat die Heilige God en Vader, wat ook ’n regverdige God en Regter is, my genadig kan wees en my sonde kan vergewe en my vry kan speek.

Dit is wat gebeur het daardie eerste dag wat ek tot bekering gekom en Jesus aangeneem het in geloof as Verlosser en Here.

Daar is ek vrygespreek en vergewe. Daar is ek verlos uit die mag van die vyand wat my al die jare gevange gehou het. Daardie dag het God my aangeneem as Sy kind en het Hy my Vader geword.

Jesus self het deur die Heilige Gees in my kom woon, sodat ek nooit weer alleen sou wees nie, maar ook om die werk wat Hy in my lewe begin doen het, klaar te maak tot die einde van my lewe hier op aarde.