Sê nou jy is deel van ʼn huisgemeente of dalk is dit net jy en jou gesin…

 

Die meeste van julle weet dat die Here my reeds in 1993 beveel het om te bedank as NG-dominee om te kon doen en sê wat ek in Sy diens moes doen. Daarom het Hy my beveel om nooit weer deel te word van enige tipiese mensgemaakte kerkdenominasie of kerkstruktuur van enige aard nie.

So moes ek ook aan die NG Kerk in 1993 sê dat die Here sê dat as hulle nie in lyn kom met wat Hy in Sy Woord sê nie, hulle in die volgende 20 jaar gaan beleef hoe meer as twee-derdes van hulle belydende lidmate ook gaan bedank en uitstap!

Dié van julle wat hierdie soort getalle dophou, sal weet dat in 1993 het die NG Kerk een-en- halfmiljoen belydende lidmate gehad. So ʼn paar jaar gelede het die nuutste syfers geopenbaar dat daar nou maar sowat ʼn halfmiljoen belydende lidmate oor is!

As deel van my opdrag en roeping bedien ek dus sedert 1993 meestal Afrikaanssprekende mense wat soos ek, uitgestap het en of besig is om uit te stap uit die tipiese gereformeerde gemeentes. Daarom weet ek ook hoeveel van hulle het soos ek en my gesin, nooit weer deel geword van enige tipiese kerkstruktuur of denominasie nie, en is of deel van wat ons as ʼn huisgemeente sal beskryf, en of hulle is doodgewoon deel van ʼn groot groep Afrikaanssprekende mense wat nooit weer êrens ʼn werklike geestelike tuiste gevind het in ʼn groter geloofsfamilie waarvan hulle deel wou raak nie.

Vandag wil ek een of twee dinge vir hierdie groep gelowiges sê:

Eerstens wil ek sê dat ek regtig verstaan wat in jou hart hieroor aangaan. Ek weet byvoorbeeld werklik dat jy gedoen het wat jy gedoen het, en ook tans doen wat jy doen, nie omdat jy nie meer glo nie, maar juis omdat jy in volle oortuiging Jesus alleen as Here en Koning wil dien en gehoorsaam!

Daarom wil ek vir jou sê: Dit wat God in Sy Woord oor die Ekklesia sê, geld egter steeds vir jou en jou gesin ook! En ja, jy behoort steeds aan die Bybelse Ekklesia en daarom sê God die Heilige Gees deur die volgende Bybelgedeeltes die volgende vir jou:

Heb. 10:24,25

Hebreërs 10: 24 en 25 sê: “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”

Dus, of jou naby-familie of gemeente gelowiges nou net vier of vyf ander gesinne is waarmee jy weekliks byeen kom, mag jy en kan jy (en jou gesin), nie sonder hierdie samekoms van gelowiges klaar kom nie! Jou Here en Koning sê vir jou so!

Jy is ook deel van die groter Ekklesia

Maar dit is ook nie jou volledige Ekklesia waarvan jy deel is nie. Jy is ook deel van die groter Ekklesia daar in jou omgewing, daar in julle dorp, of stad, of omliggende gebied.

Ook daar het jy nodig om êrens die groter samekoms van gelowiges gereeld by te woon, want daar gebeur dinge in en deur die werking van die Gees, wat nie in kleiner byeenkomste van gelowiges kan gebeur nie!

Verstaan my egter mooi: Dit beteken egter beslis nie dat jy nou aan die een of ander “kerk” of gemeente moet “gaan behoort of lidmaat van moet word nie”!
Nee, want die deel-wees van die Ekklesia, lê nie in die “lid-word” van ʼn mensgemaakte kerkstruktuur of -organisasie nie, maar in die saam-wees in die teenwoordigheid van Jesus, en in die aanbidding saam met ander gelowiges wat deel is van die Ekklesia.

Daar gaan jy ook herinner word dat jy ook deel is van die groter, selfs wêreldwye, Ekklesia!

Natuurlik gaan dit nie net oor bywoning nie. Die Ekklesia-wees-ervaring lê immers ten diepste in ʼn bewustelike ervaring van deel-wees van ʼn gelowige familie, sy dit jou naby-familie gelowiges is en of dit daardie deel wees van ʼn groter, wyer familie van families is! Waar ons mekaar moet liefhê, soos wat Jesus ons liefgehad het. En waar ons al die ander dinge kan doen wat God in al die ander “mekaar”-tekse vir ons leer in Sy Woord. Soos om mekaar te bedien, mekaar te vermaan, mekaar te bemoedig, vir mekaar te sorg, ens.
Dit is ook in hierdie kring gelowige familie-verhoudinge waar ons leer om ook te gee en te belê in diens van die Koninkryk soos wat God ons in Sy Woord leer.

Soos daar in Mat. 6:24-25 en Hand. 4, waar ons leer om te gee soos wat ons Here ons geleer het om te gee: Eerstens in die lewens van die lede van die vyfvoudige bediening wat die Here gebruik om my en my gesin te bedien; maar dan ook in die lewens van ander gelowiges wat nood en behoeftes het.

Ja, in die proses gaan ek ook leer, soos Hand. 4 ons leer, dat God vir ons meer gaan gee as wat ons nodig het, sodat ons juis van daardie meer, weer kan investeer of “belê” in die Koninkryk daar waar die Here vir ons wys waar dit nodig is.

Soos wat ons gee en so “belê in die Koninkryk”, so word ons Sy hande wat mense iets laat beleef van ʼn God wat werklik hulle liefhet en wat ook vir hulle gee wat hulle nodig het!

Om werklik “die Koninkryk van God en Sy wil te soek”, beteken dus ten minste, dat jy ook soos wat hier bo staan, jou Koning en Here se bevele hierin sal gehoorsaam!