Vier dinge wat ek oor die God geleer het wat ek dien en liefhet in Christus Jesus

 

Dit is altyd vir my merkwaardig hoe, wanneer ek en jy tyd maak om gedissiplineerd by die Here se voete te gaan sit met Sy Woord op jou skoot, hoe die Here so getrou in jou lewe inspreek daar waar dit werklik saak maak.

Soos ʼn paar weke gelede, die Vrydagoggend, wat ek beleef het hoe die Here my aan vier dinge oor Homself en Sy besig-wees met my en Sy mense herinner het.

Hy begin toe en sê: Ek is ʼn goeie God en aan My liefde is daar geen einde nie!

Dit is mos die vers in die Bybel wat die Here deur die werking van Sy Gees, die meeste keer herhaal om Homself en Sy karakter aan ons te beskryf. Gaan kyk maar self byvoorbeeld daar in Psalm 118.

Gaan dink ʼn bietjie oor wat dit alles impliseer vir jou, jou lewe en die lewe van al jou geliefdes rondom jou.

Die tweede waarheid wat die Here my aan herinner het oor Homself, was die volgende: Ek is die God van die Onmoontlike! Dit beteken ook dat dit juis op daardie mees ordinêre, gewone dae is wat Ek gewoonlik instap in mense se lewens om binne sekondes juis dit wat hulle gedink het onmoontlik is, te kom doen!

So het ek maar net weer in die afgelope weke beleef hoe die Here in my en my gesin se lewens ingestap het, en hoe Hy in sekondes al ons skuld betaal het, en boonop ons huislening vir eens en altyd kom aflos het!

Hoe groot en wonderlik is die Here wat ons dien!

Die derde waarheid wat die Here aan my hart kom vasmaak het, is die volgende: Ek het in Jesus Christus, in Sy kruisiging en dood, Sy begrafnis, Sy opstanding, en in die koms van My Gees om in en op My mense te wees, alles, alles, alles wat julle mag nodig kry of vra, reeds voorsien!

Kou ʼn bietjie hieraan!

Die vierde ding wat die Here my geleer het, was: Ek het elkeen van julle so uniek gemaak en julle alles gegee en alles langs die pad geleer wat julle nodig het om julle unieke rol te speel in My groter prentjie waarmee Ek besig is.

Wow, dit laat ʼn mens hoendervleis uitslaan?