So versoek die vyand jou en my elke dag in besigheid

 

Het jy al mooi gekyk na hoe die vyand Jesus na 40 dae sonder kos in die woestyn probeer versoek het?

Gaan lees weer die hele gedeelte daaroor in Lukas 4:1-13.

Ek het die afgelope tyd ontdek dat die vyand my elke dag, op die een of ander manier, in elke uitdaging of behoefte wat ek mee worstel, op dieselfde manier versoek.

Kom ek illustreer dit ʼn bietjie aan jou.

Die eerste versoeking waarmee die vyand kom

Die eerste manier waarmee die vyand kom, is om vir ons daarvan te oortuig dat ons in staat is om van “klippe” brood of wat ons ook al nodig het, te maak!

Ken jy dit?

Hoe sê ons altyd vir mekaar: Ons kan “uit enigiets hardloop, maar ons moet net nie uit planne uit hardloop nie!”

Hoeveel keer het ek nie gespog daaroor dat ek in ʼn minuut se tyd honderde oplossings kan uitdink vir my uitdagings nie!

Om dan elke keer na die tyd te ontdek hoe ek of ander, hulle tande stukkend gebyt het op die “klippe” wat ek wou gebruik om “brood” te maak!

Terwyl Jesus al lankal reeds vir ons die antwoord gewys het, naamlik dat ons eerder na God toe moet gaan om by Hom “woord kry” wat werklik brood kan wees wat ons honger kan stil.

Dit is mos wat dit beteken as Jesus Satan antwoord: “Daar is geskrywe: ʼn Mens leef nie net van brood nie.”

Die tweede versoeking waarmee die vyand na ons toe kom

Soos in Jesus se geval, daag die vyand ons dan op baie maniere uit “om God te vertrou om ons te vang”, terwyl ons eintlik iets doen wat nie reg is nie, of nie werklik verantwoordelik is, of nie in lyn is met wat werklik in God se hart vir ons in daardie situasie is nie.

Ken jy dit?

Daarom moet ons werklik so in pas wees met God, met Sy hart en Sy wil en Woord vir ons lewe, dat ons dadelik sal besef en kan onderskei dat die vyand ons hier wil verlei om “God te versoek”!

Die derde versoeking waarmee die vyand uiteindelik, ten diepste, in elke geval kom

Uiteindelik, ten diepste, is elkeen van hierdie versoekings waarmee die vyand na ons toe kom, ʼn geleentheid om maar net weer te kies wie jy werklik vertrou en wie werklik God in jou lewe is.

Soos wat my vriend wat pas in New York was, vanuit sy hotelkamer op die 43ste vloer, elke week moes vaskyk teen die reënboog-versierings waarmee die groot besighede en maatskappye hulle geboue mee versier het in die afgelope maand, Junie 2023, as deel van die sogenaamde “Pride”-maand!

Ten diepste was hierdie versierings niks anders nie as ʼn manier waarmee hulle uitdagend vir enigeen wat wil weet, kliphard gesê het: Ons is god in ons eie lewe, en jy het die reg om trots god te wees in jou eie lewe! So besluit self wie en wat jy wil wees en wat vir jou reg of verkeerd is!

Sê vir my: Kan die wêreld elke dag in jou besigheidsbesluite en jou besluite rondom finansies en hoe jy met ander mense werk, sien en hoor wie werklik God in jou lewe is en wie jy werklik vertrou om die oplossing te wees vir al jou behoeftes en uitdagings?

Is God se Woord, die Bybel, nog steeds die enigste, finale toets vir wat waarheid is, en vir wat reg of verkeerd is in jou lewe?

En wat van daar waar jy saam met ander gelowiges die Here aanbid? Het God se Woord werklik die finale sê in wat daar gedink en gesê en besluit word oor wat reg of verkeerd, of aanvaarbaar of nie aanvaarbaar is nie?