God gebruik altyd mense, iemand soos jy

 

Kom ons praat ʼn bietjie oor jou en oor hoe God jou wil en kan gebruik.

Besef jy dat toe God jou gered het, het Hy nie net jou gered om eendag hemel toe te kan gaan nie. Nee, Hy het jou gered met ʼn plan in gedagte.

Dit staan op baie plekke. Soos daar in Ef. 2:10.

“Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Het jy mooi gelees wat hier staan?

Lees dit net weer en luister wat wil God self vir jou deur hierdie Woord van Hom sê.

Daarom moet ek en jy, na ons bekering, met die Bybel op ons skoot, mooi luister na wat God vir ons hieroorwil sê, want jou persoonlike opdrag en roeping is die belangrikste ding in jou lewe na jou verlossing.

Wanneer jy by God self, uit Sy eie mond, hoor wat jou roeping en opdrag is, belowe ek jou, gaan jou hele lewe verander!

Skielik gaan alles in jou lewe, ja, selfs jou geloof en jou hier wees, nuwe betekenis kry!

Gaan blaai maar ʼn bietjie rond in die Bybel en ontdek dat God altyd begin met ʼn individu vir wie Hy ʼn spesifieke opdrag gee. Soos vir ʼn Noag, of ʼn Abraham, of ʼn Moses, of ʼn Dawid.

Natuurlik, gaan daardie mens wat God roep en so ʼn opdrag gee, voel dat hulle nie kan nie, dat daar altyd iets is wat kort. Maar as jy weet dit is God wat jou roep en wat vir jou hierdie opdrag gegee het, dan weet jy ook dat Hy alles sal voorsien wat nodig is.

Hoe sê ons altyd: Die Here belowe dat Hy altyd sal voorsien presies wat nodig is, as Hy die opdrag daarvoor gegee het!

En as jy nog wonder daaroor, vra maar ʼn bietjie daar rondom jou in die familie van gelowiges wat hulle beleef het in die verband. En word bemoedig deur hulle getuienisse.

As jy my sou vra, kan ek vir jou hoevele stories in die verband vertel.

Stories soos die een wat ek die week vir ons Familie van families vertel het.

Van hoe die Here ons op die 10de Oktober 1993 opdrag gegee het om te bedank as leraar uit die NG Kerk uit, en dat ek nooit weer ʼn salaris van enigiemand sal ontvang nie. Hy sal ons Totale Versorger en Voorsiener wees wat self aan Sy kinders rondom ons opdrag sal gee om vir ons te gee wat ons nodig het.

Dit is oor ʼn maand 30 jaar, maal 12 maande elke jaar, wat die Here getrou alles voorsien wat ons nodig het in die bediening waarmee Hy ons vertrou!

Doen maar self die somme in die lig van wat jy en jou gesin elke maand nodig het, en maal dit dan met 360.

Laat dit dan jou bemoedig in wat die Here van jou vra, want onthou, die Here het nie witbroodjies nie! Dit wat Hy belowe, geld vir elkeen van Sy kinders!