Nog ’n keer oor Jesus en die verskil wat Hy hier op aarde kom maak het

 

Onthou, waarmee ons besig is! Ons is besig om met die oë van iemand uit besigheid na Jesus en Sy lewe te kyk as ’n voorbeeld vir hoe ons in die besigheidswêreld, in Jesus se Naam, elkeen ’n verskil kan maak.

Vandag wil ek met jou gesels oor hoe Jesus die Romeinse owerheid aangevat het wat in Sy tyd op aarde, agter die skerms die trom geslaan het!

Kan jy dink hoe al hierdie verdrukking en onreg wat in die tyd van Jesus op aarde aan die gang was, ’n weerstand en opstandigheid onder janalleman laat opbou het!

Oral het mense en groepe begin opstaan en opstandig geword! En die Romeinse owerheid het gereageer met hulle tipiese brutale geweld en plase en huise afgebrand en links en regs mense voor die voet doodgemaak!

Maar terug na Jesus en die gesin waaruit Hy gebore is.

Onthou, Jesus se ouers was een van die brandarm gesinne in Nasaret. (Daarom het hulle net ’n paar duiwe gebring as offer met Sy besnydenis op 8-dae oud.)

Uit die geskiedenisboeke se vertellings weet ons dat sowat 5 kilometer van Nasaret af, in die klein dorpie, Seforest, in die jaar, 7 n.C., toe Jesus 10 jaar oud was, was daar hierdie opstand onder die dorpie se inwoners. En ons lees hoe die Romeinse soldate gekom en meer as 2000 mans in die openbaar gekruisig het terwyl almal van daardie omgewing gedwing was om toe te kyk!

Tussen hierdie mense het Jesus ook dus heelwaarskynlik gestaan.

Kan jy dink hoe al hierdie dinge Jesus se lewe geïmpakteer het!

Daarom het Jesus in Sy hele openbare bediening gefokus op die godsdienstige tempelleiers wat lustig met hierdie brutale Romeinse owerheid saamgewerk het.

Jesus was dus so besig om al hierdie koninkryke in beheer, wat mense se lewens hel gemaak het in diens van Satan en sy magte, uit te daag en aan te vat.

’n Nuwe Koninkryk met ‘n nuwe Koning in beheer, was nou hier op aarde!

En soos daardie Klip of Rots waaroor Daniël geprofeteer het, sou hierdie nuwe Koninkryk hier op aarde, stadig maar seker, elke ander koninkryk uitdaag en uiteindelik platvee!

Daarom was Jesus se eerste woorde in die openbaar: Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemel is naby, is hier!

Die Goeie Nuus en waarheid hieroor, sou nuwe lewe aan mense bedien en hulle werklik begin vrymaak!

Daarom moes daar ook aan die geestelike leiers in Sy tyd gesê word: Bekeer julle! Julle is slange uit die hel! Bekeer julle van al die onreg waarmee julle besig is! Stop die korrupsie! Hou op om julle eie mense dood te maak.

Daarom het Jesus selfs met die sweep onder hierdie leiers ingeklim en ook die tempel aangevat, want die tempel en sy personeel was immers intrinsiek verweef met hierdie korrupte en siek sisteem!

Maar daarom het Jesus Hom ook toegespits op die belastinggaarders, want hulle moes die taks namens die sieklike Romeinse owerheid insamel.

Maar daarom het Jesus ook oral om Hom janalleman gevoed en kos gegee.

Let ook op die skaal en wyse waarop Jesus dit gedoen het.

Hy het nie net bloot vir hulle elkeen iets gegee om te eet nie. Nee, Hy het dit op ’n skaal gedoen dat hulle iets van God se soort oorvloedige genade en Sy soort ekonomie en vrygewigheid kon sien en beleef!

En dan het Hy ook oral mense genees en vry gemaak van die demoniese magte wat hulle gebind het.

Sodat hulle nie meer nodig gehad het om na die tempel (en die “genesers daar”) te hoef gaan nie!