Maak die mense My dissipels (Deel 6)

 

Om mense wat nog nooit die Bybel gelees het of nog nooit die God van die Bybel ontmoet of self met hulle hoor praat het nie, te help en voor te berei om Sy Stem te hoor, is nie so ingewikkeld as wat mense dit maak nie.

Wat ’n mens nodig het, is soms net ’n paar vrae wat as’t ware die brug kan wees om hulle voor te berei en gereed te maak hiervoor.

Die MENU wat elke gebruiker van die toep gevra word om af te laai (en wat hulle dan in die een of ander vorm kan uitdruk sodat hulle dit by elke geleentheid kan gebruik), is presies hiervoor bedoel en hiervoor geformuleer.

Onthou, as mense werklik die Lewende God met hulle hoor praat het by ‘n vorige keer, dan kan jy mos nie net sê: Ek het verlede keer dit of dat gelees, en nou weet ek nog iets nie! Nee, want as jy werklik God met jou hoor praat het, gaan dit jou verander of ten minste maak dat jy iets daarmee wil doen of dit vir iemand anders wil vertel!

Die tweede vraag van die MENU is bedoel om die gesprek aan die gang te kry oor geestelike dinge, op so ’n manier wat vir die meeste mense maklik maak om daaroor te gesels.

Vraag 3 en 4 is bedoel om mense geleentheid te gee om ’n bietjie oop te maak oor die persoonlike dinge waarmee hulle tans worstel, en om ook ’n geleentheid te kry om na te dink oor wie daar rondom hulle is wat dalk ook voor een of ander uitdaging tans staan.

Dan neem Vraag 5 en 6 hulle na die betrokke Skrifgedeelte toe en gee hulle geleentheid om erns te maak met wat daar staan en wat hulle hoor die God van die Bybel self sê. Hulle kry ook ’n geleentheid om te sê wat hulle gaan maak met dit wat hulle by Hom gehoor het.

Vraag 6 gaan jou help om nie net ’n hoorder van die Woord te wees nie, maar om werklik oor te gaan tot aksie en om dit wat jy dan gehoor het wat God vir jou gesê het, te gaan toepas en te gehoorsaam in jou lewe!

Vraag 7 gee vir elkeen wat werklik gehoor het hoe God self met jou gepraat het, die geleentheid om te besluit oor wie rondom hom of haar dalk nodig het om te hoor wat jy vandag gehoor het.

So leer die Toep van die begin af elkeen om te gesels oor wat hulle nuut ontdek en gehoor het. Dit is immers mos ‘n bekende leerbeginsel: As jy werklik iets gesnap en verstaan het, begin om dit ook met ander te deel, en maak dit so vir altyd deel van jouself en jou manier van doen!