Deel 3 – God is self hier in die detail betrokke en aan die werk!

 

Skrifgedeelte: Lees Rigters 6 en 7

Julle ken die verhaal van hoe God Homself aan ’n boer, Gideon, waar hy bang-bang besig was om koring in die geheim uit te wan (kyk 6:11), geopenbaar en geroep het.

So openbaar God Homself ook in ons tyd aan sovele mense. Skielik weet hulle net: God het my geroep om in ’n tyd soos dié ’n verskil te maak! Soos in ’n Gideon se geval, kan jy nie jouself indink hoe dit moontlik kan wees dat Hy juis jou wil gebruik nie.

Maar dan, soos wat jy baie versigtig begin doen wat jy moet doen, openbaar God stelselmatig dat dit waarvoor Hy jou wil gebruik, niks met jou of wat jy kan doen of wat jy tot jou beskikking het, te make het nie.

Alles wat hier moet gebeur, gaan uit en uit God se werk wees! Sodat Hy uiteindelik al die lof en eer sal kry!

Moet ek jou herinner aan die tye wat jy, soos ’n Gideon, gaan twyfel of jy werklik by God self gehoor het en of jy werklik Sy stem gehoor praat het met jou?

Onthou dan hoe Gideon, selfs nadat hy in geloof begin doen het wat God hom aangesê het om te doen, telkens maar weer begin twyfel het en vlieswolletjies uitgesit het om net seker te maak of hy reg gehoor het.

Al wat ek weet is dat die God wat werklik ons hart en persoonlikhede ken, in Sy genade, selfs ons vlieswolletjie-toetse beantwoord! Sodat ons kan weet dat dit wat ons in ons hart en gees gehoor het, werklik van God self af was!

Is daar dinge in jou lewe, in jou gees, waaroor jy eens so seker was dat dit van God af was, waaroor jy nou twyfel?

Word stil en gaan maak maar net weer seker of jy werklik God se stem gehoor het.

En jy sal maar net weer ontdek, soos ’n Gideon, dat die God wat ons geroep het, se genade ook vir jou genoeg is en dat Hy Homself met graagte oor en oor aan jou wil kom openbaar.

Wie na Hom in opregtheid en eerlikheid roep en soek, sal ontdek dat Hy getrou is aan Sy Woord en Sy vele beloftes aan ons, en dat Hy Homself deur jou sal laat vind! (Kyk maar wat staan daar in Jer. 29:11 tot 14; Luk. 11:9,10; Fil. 4:6,7).

As dit wat in jou hart en gees is, werklik van God af is, sal Hy dit bevestig as jy met opregtheid vra.

Dan sal Hy ook oral langs die pad bevestig dat dit wat hier moet gebeur, en waarvoor Hy jou wil gebruik in die proses, ten diepste alles van Hom afhang en alles deur Hom sal gebeur! Ja, Hy wil jou gebruik en ander, maar uiteindelik gaan dit alles maar net Hy wees wat dit maak gebeur!

Telkemale gaan Hy vir jou en die paar mense om jou, aansê om stil te word en te luister. Sodat julle kan hoor, soos ’n Gideon daar in Rigters 7, dat Hy dit nie gaan doen en gaan laat gebeur soos julle in julle menslikheid gedink het dit gaan gebeur nie.

Nee, soms gaan Hy jou aansê om 22 000 van die 30 000 te laat gaan! En om selfs ’n bietjie later, 9 700 van die oorblywende 10 000 ook te laat gaan.

Totdat daar net 300 man oorbly!

Natuurlik gaan jou broek aan die bewe raak!

Daarom gaan God jou, in Sy genade, self verseker dat dit Hyself en Sy stem is wat jou aangesê het om dit juis so te doen!

Al moet Hy ’n droom van iemand uit die kamp van die vyande gebruik om jou te verseker dat wat hier aan die gebeur is, God self is wat aan die werk is! Ja, dat die klein ronde garsbroodjie (= ’n Gideon, of jy, in jou situasie), wat Hy hier wil gebruik om Sy Koninkryk hier op aarde in hierdie situasie te laat gebeur, maar net Hy is wat in die detail betrokke en besig is!

Kyk net weer ’n slag mooi na die prentjie van die “garsbroodjie” van die droom! Onthou dan waar alles begin het: By ’n Gideon wat besig was om koring daar in die parskuip, bang-bang uit te wan!

Onthou hoe koringare destyds geslaan moes word, sodat die koringkorrels uit die are op die grond kan val en die kaf die lug kan optrek en deur die wind weggewaai kan word.

Dan word daardie koringare gemaal tussen twee reuse swaar maalstene, tot dit fyn meel was. En dan word daardie meel gemeng met water en olie en gis, en geknie en geknie!

Dan moet dit staan en rys, om maar net weer, ’n bietjie later, afgeknie te word, voordat dit in ’n pan, in die vuur!!!, gesit word en teen ’n hoë temperatuur gebak word om uiteindelik ’n ronde gaar garsbroodjie te kan wees!

Waardeur moes jy nie alles gaan – veral gedurende die laaste twee of drie jaar – om uiteindelik nou gereed te wees vir dit waarvoor God jou wil gebruik om Sy Koninkryk daar rondom jou te laat sigbaar word en deurbreek nie!