Maak die mense My dissipels (Deel 9)

 

Op die fondasie van ʼn Bybelse verstaan van wie jy as nuutgebore mens in Christus Jesus is, skoon gewas deur die bloed van Christus (soos gesimboliseer deur die onderdompeling in die water van die doop), maar ook nou gedoop met die Heilige Gees en toegerus met die gawes van die Gees, word elke gebruiker van die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, in ROETE 3, verder begelei in die Skrif om te sien hoe lyk die ware Bybelse kerk en wat beteken dit nou om deel te wees van God se familie hier op aarde.

Van die een stop na die ander, word gebruikers begelei om werklik Ekklesia of die ware Bybelse Kerk te beleef soos destyds in die vroeg-Christelike gemeentes, wat die boek, Handelinge, en ander gedeeltes in die Nuwe Testament, vir ons teken.

Dit alles hoor en lees elke gebruiker van die Toep self uit die Woord van God en hoor hulle uit die mond van God self wat die waarheid hieroor is.

Dit is geweldig belangrik dat mense weer die kans kry om by God self te hoor wat die waarheid is. As hulle rondom hulle kyk, na dit wat ons vandag kerk van Jesus noem, en hoe ons vandag kerk hou en doen, dan kan ons so maklik dink dit is wat kerk werklik is en beteken. En hoe geskok is ons nie soms oor wat ons beleef en hoor in wat in gemeentes gepredik en gedoen word nie!

Daarom neem ROETE 3 mense op hierdie Bybelse reis en wys en leer hulle wat die dissipels destyds by Jesus as die Koning self, geleer het oor wat dit beteken om deel te wees van die Familie van God op aarde.

In die lig hiervan moet hulle dan vir hulleself vrae soos die volgende beantwoord:

Hoe gaan dit wat Jesus ons geleer het, ons hele lewe raak?

Hoe moet dit ons manier van lewe raak en verander?

Hoe gaan dit byvoorbeeld, hoe ons geld en goed in ons lewe hanteer, verander?

As ons werklik glo dat Jesus Christus werklik God is wat mens geword het en wat Sy lewe gegee het sodat ons die Lewe kan ken en dit in oorvloed kan belewe, hoe gaan dit wat ons sê en doen daar by die werk en tussen ander mense beïnvloed?

Kan ons dan enigsins stilbly oor wat Hy in ons lewe gedoen het en hoe Hy ons kom verander het?

En as ons dan oor Hom moet getuig en ander Sy dissipels moet maak, hoe doen ons dit?

Dit alles is wat elke gebruiker van die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, vir hulleself ontdek met die Bybel op hulle skoot, in ROETE 3.