ʼn Geweldig belangrike deel van my bediening bestaan daaruit om aan kinders, ja, selfs so jonk soos 3 tot 12 jaar oud, in eenvoudige taal te verduidelik wat Jesus vir ons daar aan die kruis in April 30 na Christus, kom doen het.
Ek voel altyd dat as ek dit aan kinders kan verduidelik dat hulle dit kan verstaan, verstaan groot mense dit ook dalk vir die eerste keer.
Om dit te doen, gebruik ek verskillende prentjies. Soos…
Ek gebruik Skrifgedeeltes soos Romeine 3:10 tot 18 om te wys waarom die Here self vir ons in Romeine 3:19 sê dat die Heilige God ons almal moet straf omdat ons almal sonde doen en ongehoorsaam is aan wat Hy van ons vra.
Romeine 6:23 vertel aan ons dat die straf waarmee God elke sonde en elkeen van ons wat sondig mee moet straf, is die dood en die helse straf ewig daarna.
Die prentjie wat ek gebruik is dan om my hand uit te steek en te sê: God sê vir ons in die Bybel dat elkeen van ons sonde doen en dat die straf daarom op ons rus. Hy moet ons daarvoor straf omdat Hy ʼn Heilige God is wat sonde nie voor Sy oë kan verdra nie.
Ek sê: Kom ons stel die straf van God waarmee Hy elkeen van ons moet straf, as hierdie boek voor.
Die Bybel sê: Daarom rus God se straf en Sy woede op elkeen van ons, en moet ons daarvoor gestraf word.
Dan sit ek die boek bo-op my hand om te illustreer hoe God se straf en woede op elkeen van ons rus.
Dan vertel ek aan hulle so eenvoudig moontlik die inhoud van die Evangelieboodskap. Byvoorbeeld, soos Romeine 3:21 tot 26 dit aan ons vertel.
Dit illustreer ek verder soos volg:
Wat die Evangelie ons vertel is dat God vir Jesus, Sy Seun, gestuur het om in ons plek, die straf wat op ons rus as gevolg van ons sonde, op Hom te neem. Daarvoor moes Hy gekruisig word en in ons plek sterf en ons helse straf dra. Sodat God elkeen wat glo dat Jesus dit ook vir hom of haar gedoen het, kan vryspreek en totaal kan vergewe.
Ek vat, soos ek dit vertel, dan die boek wat op my hand rus met my ander hand, en sit dit oor na my ander hand. Om so voor te stel wat Jesus vir ons elkeen kom doen het.
Dan sê ek: Dit het Jesus vir elkeen van ons kom doen.
Die Here belowe in Sy Woord in Johannes 1 vers 12, dat elkeen wat glo dat Jesus daar aan die kruis Sy lewe en Sy bloed vir jou sondes gegee het, word God se kind en hoef nie meer gestraf te word vir hulle sondes nie, want Jesus is in April 30 na Christus, eens en vir altyd in jou plek gestraf. Daarom kan God nou jou genadig wees, jou sondes vergewe en jou aanneem as Sy kind.
Johannes 1:12 sê dit so: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. “
1 Johannes 5:11 tot 13 sê dit so:
“God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.”