Oor die gawes van die Gees (eerste van drie dele)

Kom ons gesels ’n bietjie oor die gawes van die Gees waarmee God Sy mense toerus tydens die doping met die Gees.

Blaai na ’n gedeelte soos Romeine 12:6-8 om te hoor wat die Here self vir ons hieroor openbaar.

Onthou ons het hier te make met bonatuurlike gawes wat God self aan Sy mense gee soos en wanneer Hy wil.

Die gawes wat in hierdie gedeelte genoem word, is:

“Profesie – in ooreenstemming met die geloof wat jy het” – Soos wat jy leer om God te vertrou en te gehoorsaam as God jou wil gebruik, gaan jy leer om God te vertrou om nie net vir jou vir een persoon ʼn woord van profesie te gee nie, maar ook in ander gevalle vir baie meer mense (ons gaan verder hierna verwys as ons oor 1 Kor. 14 spesifiek gesels).

“Diens” – Hier het ons te make met ʼn bonatuurlike begeerte en vermoë om mense tot diens te wees, voete te was of agter die skerms ʼn verskil te maak. (Dit is dus nie net ʼn persoonlike karaktertrek of deel van jou normale persoonlikheid nie.)

Die gawe van “lering” – Dit is ʼn bonatuurlike gawe om aan mense die waarheid in die Skrif te leer en te verduidelik dat dit vir hulle sin begin maak.

Die gawe van “bemoediging” – Hier het ons te make met ʼn bonatuurlike vermoë om ander te “encourage” en moed in te praat. As jy klaar is, beleef mense dat God self met hulle gepraat het in die situasie.

Die gawe van “gee” – Hier het ons nie te make met die “gee” in die lewe van ander wat almal van ons volgens die Skrif doen uit liefde nie. Nee, hier gaan dit oor ʼn bonatuurlike gawe wat God aan sekere individue gee om werklik “Kingdom stewards”, God se bank- en batebestuurders in hierdie wêreld te wees. Dit gaan hier oor mense wat op ʼn buitengewone wyse gee en nuwe kanale kan skep sodat die Koninkryk van God vinniger en meer effektief kan kom.

Die gawe van “leiding gee” – Hier gaan dit oor bonatuurlike leierskap, met die gepaardgaande toewyding en ywer, wat God aan mense gee in spesifieke situasies. (Weereens is dit nie soseer iets wat bloot deel is van jou natuurlike persoonlikheid nie.)

Die gawe van “help” – Onthou weereens dat dit ʼn bonatuurlike gawe is wat God se Gees gee soos en wanneer Hy wil, om ander te kan help waar dit werklik ʼn bonatuurlike verskil kan maak. Dit gaan hier oor ʼn bonatuurlike vermoë om ander barmhartig by te staan.

Kom ek som net vinnig vir duidelikheid weer op:

As ons dus praat van “gawes van die Gees”, soos hier in Romeine 12, gaan dit oor bonatuurlike gawes wat God se Gees aan gelowiges gee wanneer en waar Hy wil. 

As Paulus hier praat van “dien”, “lering”, “bemoediging”, “leiding gee”, en “gee”, gaan dit nie oor natuurlike aanleg nie. Dit gaan ook nie oor die soort “dien”, “bemoediging” en “gee” wat van almal van ons wat Christene is in die Skrif gevra word as deel van ons gewone Christen-wees nie. As ons praat van “gawes van die Gees”, dan bedoel die Bybel bonatuurlike vermoëns wat God deur die werking van Sy Gees gee as geskenke (wanneer en waar Hy wil), wat niks te make het met ons natuurlike vermoëns of persoonlikhede nie.