Dag 4 – Prakties: Hoe luister ek saam met twee of drie ander na die Here se stem

LUISTER

Ek weet nie hoe jy oor die Bybel dink nie.

Vir my persoonlik is die Bybel “geïnspireerde Woord van God”, soos wat God self deur Sy Gees Paulus geïnspireer het om te skryf in 2 Tim. 3:14 tot 17.

Wat maar net in gewone Afrikaans beteken dat die Enigste, Ware, Lewende God as’t ware self by ons kom staan en met ons kom praat wanneer ons die Bybel lees (veral as ons dit hardop lees), en vir ons iets kom sê oor Homself, oor wat in Sy hart aangaan en oor wie Hy werklik is.

Maar Hy kom sê ook vir ons iets oor onsself as mens en oor die lewe en ons eie lewe in die besonder.

Kyk en blaai ʼn mens deur die Bybel, dan ontdek jy daarin twee hoofdele, ʼn Ou Testament en ʼn Nuwe Testament, met altesaam 66 heeltemal verskillende boeke daarin, waarvan sommige dele ...

  • Historiese boeke is – wat oor dinge handel wat êrens in die verlede, hoofsaaklik in Israel of een van die lande in daardie omgewing plaasgevind het
    • Wettiese boeke is – wat vir ons vertel van wat God vir Sy mense destyds gesê het oor hoe hulle moet lewe, en Hom moet dien
    • Profetiese boeke is - waar God deur verskillende profete gepraat het
    • Poëtiese boeke en wysheid-literatuur – waarvan die Psalms, Spreuke en Hooglied seker die bekendste is
    • Die Evangelie-vertellings oor die lewe, woorde en wonders van Jesus – in die vier Evangelies
    • Die gebeure in die Vroeg-Christelike gemeentes – in die boek, Handelinge
    • Die verskillende briewe in die Nuwe Testament – wat die Heilige Gees ʼn Paulus, Petrus, Johannes, en andere geïnspireer het om te skryf
    • En dan die boek, Openbaring – wat ʼn Testament-profetiese boek in die Nuwe Testament is, waarin God gelowiges wat baie swaar gekry het wou bemoedig met dit waarmee Hy besig is.

Het jy geweet dat God meer as 40 verskillende skrywers gebruik het oor meer as ʼn 1000 jaar, wat op twee kontinente gewoon het, om neer te skryf wat hulle beleef het die Heilige Gees wil hê hulle moet neerskryf, sodat mense wat dit lees of hoor, sal beleef God self praat met hulle deur dit wat hulle lees of hoor?

Maar uiteindelik sou daar hierdie duidelike goue draad loop dwarsdeur die Bybel, want op die een of ander manier, vertel alles wat daarin staan, ons iets oor Jesus.

Maar genoeg gepraat!

2 Tim. 3:14-17

Wil jy nie jou Bybel oopmaak by 2 Timoteus, hoofstuk 3, en dan lees jy of iemand anders daar by jou (of wat saam met jou dalk op ʼn WhatsApp-video-oproep is, hardop vir julle wat daar in verse 14 tot 17 staan nie?

(As iemand dalk ʼn ander vertaling van die Bybel byderhand het, lees verse 14 tot 17 ook hardop daaruit vir almal).

Terwyl julle luister na wat daar staan, probeer om vir mekaar in julle eie woorde te sê wat julle hoor die Here vir julle alles sê in hierdie paar verse.

Help mekaar om alles wat in hierdie verse staan in julle eie woorde oor te sê.

Sê dan vir mekaar die volgende:

  • Wat het vandag vir jou die meeste beteken in hierdie verse, en waarom?
    • Wat sê hierdie gedeelte vir jou oor God?
    • En wat sê dit vir jou oor ons as mens?

Ten slotte, as God self vandag werklik met jou deur hierdie verse gepraat het, hoe sou Hy wil hê jy moet dit toepas in jou lewe van elke dag?

(Begin jou antwoord op die vraag met “Ek wil ...”)

Maak julle oë toe en antwoord Hom op wat Hy vir jou spesifiek gesê het in hierdie verse.