Nuwe wyn en nuwe wynsakke beteken verseker ʼn nuwe paradigma

 

As ons sê dat ons te doen het met ʼn “nuwe paradigma” beteken dit ten minste dat ons almal by punt nul moet begin dink hier. Ons kan nie in die geskiedenis in hardloop en een of ander slim denker se kommentaar gaan gryp en dink dat dit ons gaan help hier in ons “nuutdink” nie.

Ja, ek hoor hoe mense uit die gehoor vir my sê: Ons weet dit! Tog wonder ek of ons dit regtig verstaan…

Jer. 31:31-34

Daar in Jeremia 31:31 tot 34 lees ons die volgende:

“Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit.

Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here.

Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

'n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: ‘Jy moet die Here dien’ nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.”

Hierdie nuwe seisoen het natuurlik met die Koms van Jesus, met Sy kruisiging, dood en opstanding, maar veral met die uitstorting van die Heilige Gees aangebreek.

Toe die Here aan die begin van 2020 vir ons profeties gesê het dat Hy deur Sy Gees ons gaan help om nuut te dink oor die Ekklesia, die Kerk van Jesus, en dat ons uit ervaring gaan leer om dinge anders te doen as wat ons dit al die jare gedoen het, kon niemand van ons voorsien het dat ʼn wêreldwye Grendeltyd ons almal terug in ons huise sou dwing en dat ons Ekklesia en “byeenkomste van die Ekklesia” anders sou beleef en sou doen buite die geboue wat spesiaal deur gelowiges hiervoor gebou is nie.

Ja, dat ons ʼn geweldige verdieping sou beleef in ons verstaan van wat dit beteken om mekaar as gelowiges lief te hê en te bedien, maar ook in hoe ons ander mense sou leer liefhê en bedien.

Daarom wil ek hierdie gedeelte afsluit en vir jou vra om die Bybel as Woord van die Lewende God nou te neem en dan gaan lees en luister jy, asof vir die eerste keer, na wat Hyself vir jou daar in die volgende twee gedeeltes wil sê:

Joh. 13:12-35 en Jak. 2:14-18

Johannes 13:12 tot 35 en Jakobus 2:14 tot 18. Probeer eers presies te ontdek wat daar staan in die twee gedeeltes, en dan probeer jy in jou eie woorde oor te sê wat hoor jy sê Hy vir jou deur hierdie gedeeltes.

Gesels dan met die Here oor wat jy hoor Hy in hierdie gedeeltes vir jou sê in hierdie tyd.