Met Jesus se vrede, Sy “Shalom” in Hebreeus, of Sy “Eirene” in die Grieks, in jou eie lewe, het “vrede” tussen jou en God, en jou en ander mense gebeur. Ja, kan hierdie SHALOM, en die hele spektrum van God se wonderlike VREDE in jou eie lewe en rondom jou in elke sin van die woord begin deurbreek en waar word!.
Kan ek jou ʼn persoonlike vraag vra?
Proe en beleef jy dit werklik in jou lewe?
Die God van die Bybel, wat altyd die waarheid praat en wie se Woord altyd gebeur, sê dit is waar in jou lewe. En as jy dit nog nie beleef of ten volle beleef nie, gryp dit net weer vas in geloof ook vir jou!
Hy sê omdat jy weet jy is vergewe, kan jy ook ander, wat jou verontreg en seer gemaak het, vergewe.
Daarom kan Hy jou nou uitstuur as een van Sy dissipels in die woorde van Johannes 20: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek nou julle ook.”
So hoor ons dan hoe Hy ons opdrag gee in Lukas 10, daar waar Hy ons geposisioneer of daar waarheen Hy ons wil stuur:
“Hierna het die Here nog twee-en-sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Daarom moet julle bid tot die Here, aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.
Watter huis julle ook al binnegaan, sê eers, ‘Vrede vir hierdie huis!’
As daar 'n vredeliewende mens (= ʼn man opsoek na vrede) woon, sal julle vrede op hom rus, anders sal dit na julle terugkeer.
Bly in dieselfde huis, terwyl julle eet en drink wat hulle aanbied, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis rondtrek nie.
As julle in 'n dorp kom en die mense verwelkom julle, eet wat aan julle voorgesit word. Maak die siekes wat daar is, gesond en sê vir hulle, ‘Vir julle is die koninkryk van God op hande.’ “
Kom ek spel vir jou dit wat Jesus hier sê, in vier stappe uit:
1. “Vrede vir julle!”
Begin die mense, wat die Here op jou hart lê, te seën in Jesus se Naam. Bid dat God hulle uit hulle skoene sal begin seën met Sy seën (Deut. 28 se seën), wat deur die dood en opstanding van Jesus deel is van “die lewe”, en “dit in oorvloed”, wat Hy vir ons elkeen bewerk het. (Joh. 10:10b) Begin om God se vrede ook oor elkeen van hulle elke dag uit te spreek in Jesus se Naam!
2. Eet en drink saam met hulle!
Eet en drink saam met hulle, kuier saam met hulle, om so vir hulle tyd te gee om, terwyl julle saam eet en drink, hulle werklik jou en jou hart kan leer ken. Mag hulle iets van Jesus, Sy liefde en Sy lewe, in jou raaksien!
3. Bedien “Shalom”, “Eirene” aan hulle!
Wees deurentyd sensitief vir God se Gees se stem, wat dalk vir jou ʼn bepaalde nood in daardie mense se lewe wil wys wat net God kan bedien. Bid dan dat God sal kom en ʼn God-grootte wonderwerk sal kom doen in daardie een se lewe. Sy dit ʼn genesing is wat moet plaasvind, of dat God êrens in sy lewe, sy huwelik, sy besigheid, of finansies, kan ingryp en ʼn wonder daar kom doen.
4. Bedien die Evangelie van die Koninkryk aan hulle!
Wanneer God se Gees vir jou so die geleentheid skep, getuig dan teenoor daardie persoon oor die hoop en die lewe in Jesus wat in jou is. Bedien dan ook aan hulle die goeie nuus dat God se koninkryk gekom het om ook hulle, en ander se lewens om hulle, te verander.