Jesus het self so aan ons kom leer daar in Lukas 10.
Deel van ons opdrag om “vrede” te bedien aan mense en gemeenskappe, is om die Here te vertrou om genesing as deel van die Boodskap oor die Koninkryk aan mense te bedien.
Onthou jy wat Jesus daar in Lukas 10:9 gesê het?
“Maak die siekes wat daar is, gesond en sê vir hulle, ‘Vir julle is die koninkryk van God op hande.’”
Deel van die bediening van die Koninkryk van God of die Goeie Nuus van die Evangelie oor wat Jesus werklik vir ons kom doen het hier op aarde, is om ook genesing te bedien aan mense.
Deel van die “vrede”, of “Shalom “ in die Hebreeus, wat Jesus kom bewerk en moontlik maak het hier op aarde, is om genesing, restourasie, heelmaking, bevryding, bemoediging en vergifnis te bedien aan mense wat steeds vasgevang sit in fisies-chemiese siektetoestande, of dalk vasgevang sit in emosionele pyn, trauma, en depressie.
Daarom was God se belofte daar in Matteus 8:17 vir my soos lewendmakende water toe ek op 37 jaar oud reeds 3 jaar sonder water rondgeloop het in die woestyn.
“Hy het ons krankhede weggeneem, en ons siektes het Hy gedra.”
Twee tannies het in die 1990’s vir my fisiese genesing as ʼn NG dominee kom bid. Ek was reeds vir bykans 3 jaar besig om te verstik aan ʼn siekte waarvoor daar geen oplossing in die mediese wêreld op daardie stadium was nie.
Hulle gebed en salwing met olie, soos Jakobus 5 ons opdrag gee, was die sleutel vir God se volledige “SHALOM” om in my lewe as volgeling van Jesus deur te breek.
So het die Here se “Shalom”, Sy vrede, ook later in my lewe as PTSD-lyer, deurgebreek na alles wat ek gedurende my tyd in die grensoorlog van destyds gesien, gehoor en ervaar het!
Daarom kan die Here my en jou, as deel van Sy Ekklesia, ook vandag gebruik om so die Goeie Nuus van die Koninkryk aan mense te bedien en om in Jesus se Naam en in Sy diens, so “vredemakers” in ons tyd te wees!