As God self, deur die werking van Sy Gees, jou letterlik toegevou het in Sy vrede en jy toegerol voel in daardie vrede en liefde, sê Hy ook vir jou daar in Lukas 10:
“Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.
“Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie.
As julle in 'n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’
As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom.
Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon.
As julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit.
Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’
Maar as julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: ‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’
Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.
“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, dink jy jý sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal!
“Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”
Kan ek net weer vir jou probeer opsom wat Jesus vir ons as Sy volgelinge hier sê oor wat dit beteken om elke dag Sy getuies en ambassadeurs van die Koninkryk van God hier op aarde te wees?
1. Begin die mense wat die Here op jou hart lê daar waar jy is, te seën met God se vrede in Jesus se Naam. Bid dat God hulle uit hulle skoene sal seën met Sy seën (Deut 28 se seën), wat deur die dood en opstanding van Jesus deel is van “die lewe” en “dit in oorvloed” wat Hy vir ons elkeen kom bewerk het. (Joh 10:10b)
2. Wees sommer net jy daar tussen hulle, eet en drink saam met hulle, kuier saam met hulle, om so vir hulle tyd te gee sodat hulle jou en jou hart kan leer ken. En hopelik in die proses, iets van Jesus, Sy liefde en Sy lewe in jou kan begin raaksien en ervaar.
3. Wees heeltyd sensitief vir God se Gees se stem in jou, wat dalk in hierdie tyd, ‘n bepaalde nood in daardie mense se lewe vir jou gaan wys, wat net God kan bedien. Bid dan dat God sal kom en ‘n God-grootte wonderwerk sal kom doen in daardie mens se lewe; sy dit ‘n genesing is wat moet plaasvind, of dat God êrens in hulle lewe, huwelik, besigheid, of finansies, kan kom ingryp en ‘n wonder daar kom doen.
4. En wanneer God se Gees vir jou so die geleentheid skep, getuig dan teenoor hulle oor die hoop en die lewe wat daar in Jesus moontlik is. Ja, dat God se koninkryk ook gekom het om hulle, en almal om hulle, te verander.
“Laat U Koninkryk kom, en U wil geskied, soos in die hemel, ook hier op aarde!”