Ek wil vandag baie prakties wees.
Kom ek vertel vir jou wat prakties in my lewe aan die gebeur is omdat ek gekies het om die Here toe te laat om my elke dag, vroegoggend, te bedien met Sy Shalom, Sy vrede.
Jy onthou mos wat daar in Fil. 4:19 staan, nè! Indien nie, kom ek haal dit gou vir jou aan:
“En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”
Hoeveel keer het ek nie al uitgeroep na die Here nie: “Here, ek weet nie meer wat om te doen nie! Ek is in die skuld en besig om my laaste geld hier te gebruik. Help asseblief, Here!”
So vertel ek nou die dag weer vir een van my skoonseuns hiervan.
Dit is nou al meer as 30 jaar wat ons as gesin die Here vertrou as ons Totale Voorsiener! En elke keer as ek roep, het Hy “opgedaag” en ons uit-gered en voorsien in wat ons nodig het!
Ja, soms was dit nie presies soos en wanneer ek dit wou hê nie! Maar Hy het ons nog nooit in die steek gelaat nie! Soos daardie een TV-advertensie tereg sê: As Hy vandag nie sou kom help nie, sal dit werklik die eerste keer wees!
Daarom loof ek die Here vir Sy getrouheid aan Sy beloftes. Maar, asseblief, kan ek jou mooi vra: Moenie wag tot jy eers diep in die skuld is voordat jy Sy belofte daar in Fil. 4:19 vasgryp in geloof nie!
Want, het jy gelees wat Paulus in Filippense 4 werklik vir my en jou sê?
Hy praat nie net hier van God wat voorsien nie! Hy praat van: “My God sal …”!
Sien, dit is die taal van iemand wat in sy eie lewe gesien en beleef het dit is wie en hoe sy God is! Daarom weet hy ook dat dit in jou lewe as Sy kind net so gaan waar word!
Jy hoef daarom nie te wag tot jy “rock bottom” is voor jy die volle impak van die “shalom”-kant van hierdie beloftewoord in jou lewe kan ervaar nie!
Ek kan vir jou uit my eie skande en skade vertel van soveel kere wat ek so besig was om planne te maak en my arms stompies te werk om self ’n oplossing vir my krisis of nood te vind. Ja, dat ek in die proses, sonder om dit altyd te besef, “vergeet het” van Fil. 4:19 as deel van God se “shalom”-belofte aan my en my geliefdes, want hoor wat daar regtig staan:
“En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”
Hierdie woord is dus nie net bedoel vir daardie “rock bottom”-tye nie! Dit is bedoel vir elke dag! Dit is bedoel om deel te wees van my elke dag se “reset” waar ek myself herinner daaraan dat die Here ook vandag by my en in my is en dat Sy beloftes ook vir hierdie dag geld!
Daarom, vandat ek elke oggend my dag gedissiplineerd begin deur doelbewus ook hierdie belofte vas te gryp, het ek ontdek hoe hierdie “vrede”, gemoedsrus, kalmte, my hart begin toevou en verander en hoe selfs die “rock bottom”-tye al minder en minder begin word het in my lewe!
Ek het iets begin ontdek van daardie vergenoegdheid waarvan Paulus ook hier in Fil. 4 praat. Waar ’n mens begin ontdek dat midde daardie kortstondige tye van te min en nie genoeg nie, ’n mens nie meer so angstig raak nie en ook in daardie tye God se teenwoordigheid in en rondom jou voelbaar kan belewe.
Begin vandag nog om hierdie soort geloof-dissiplines in te bou in jou lewe.
As jy nie weet presies hoe nie, vra assseblief! Ek wil graag jou daarmee help!