Wat ons oor Jesus glo, is verseker waar!

Hoe seker is jy van jou feite as gelowige volgeling van Jesus?

Hoe seker is jy dat God regtig Homself aan ons geopenbaar het en dat Hy met ons gepraat het?

Wel, natuurlik is die antwoord op hierdie vrae 'n keuse wat jy iewers in jou lewe gemaak het gebaseer op wat jy glo waar en seker is.

Vir my persoonlik is dit geweldig belangrik dat hierdie geloofkeuses wat ons as gelowige volgelinge van Jesus gemaak het, gebaseer is op bewysbare feite wat in enige hof of lesinglokaal oor die wêreld rasioneel en logies verdedigbaar is.

Kom ek vertel jou waarom ek glo dat ons in hierdie 66 boeke van die Bybel werklik die ware God ontdek en hoor praat.

Ek weet nie wat antwoord jy mense wat dit wat jy glo, wil afmaak as kortsigtig en selfs dom nie.

Weet jy dat die meeste van hierdie mense heelwaarskynlik nog nooit self die Bybel gelees het of probeer verstaan het waarmee ons te doen het in die Bybel nie.

Hoe verduidelik ʼn mens wat die hart is van alles wat ons in die Bybel lees?

Hier is hoe ek gewoonlik dit aan mense verduidelik.

Ek verduidelik dan aan sulke mense dat die kern van wat in die 66 boeke van die Bybel staan, in een woord saamgevat kan word, naamlik in die naam van Jesus in die Nuwe Testament, en in Sy Naam in die Ou Testament as die Messias wat kom!

Die Bybel bevat immers hierdie twee gedeeltes: die Ou Testament en die Nuwe Testament.

Die Ou Testament bestaan uit 39 boeke wat deur sowat 30 skrywers oor ʼn tydperk van meer as ʼn 1000 jaar oorspronklik in Hebreeus, met ʼn baie klein gedeelte in Aramees geskryf is.

Die eerste boek in die Ou Testament, Genesis, begin by die skepping van alles, en hoe God vir Homself ʼn nuwe volk geskep het, wat ons leer ken as die Jode, en wat in die land, Israel, gaan woon. Hierdie nuwe volk is net vir een rede belangrik en dit is omdat hulle die moederskoot moet wees uit wie die Messias jare later gebore sou word. Die laaste boek van die Ou Testament is die boek, Maleagi.

Die tweede deel van die Bybel word die Nuwe Testament genoem en bestaan uit 27 boeke.

Hierdie gedeelte is oorspronklik in Koine-Grieks geskryf deur sowat 10 skrywers oor ʼn tydperk van sowat 40 jaar.

Die Nuwe Testament begin met vier verhale deur vier verskillende skrywers wat vertel oor die 33 jaar van hierdie Jesus hier op aarde, en eindig met die boek, Openbaring.

Die hele Nuwe Testament gaan oor Jesus, oor Sy lewe en alles wat Hy gesê en gedoen het, en alles wat die mense oor Hom geglo het. Dit vertel hoe die duisende wat in Hom geglo het daardie sowat 40 jaar na Sy  lewe op aarde, oor Hom getuig en vir Hom gelewe het. Duisende van hulle was selfs bereid om selfs te sterf en gemartel te word vir wat hulle oor Hom glo.

Ja, daardie Jesus, volgens die beste historiese gegewens wat ons het, in September 3vC, in Betlehem in Israel gebore, en was destyds ook bekend as Jesus van Nasaret, omdat Sy ouers in die dorpie Nasaret gewoon het.

Hy sou uiteindelik net 33 jaar hier op aarde lewe, en is op die dag voor die Joodse Pasga-fees daardie jaar, in April 30 n.C., op Golgota, net buite Jerusalem, gekruisig, begrawe, en het, volgens wat ons glo, drie dae later opgestaan uit die dood. Vir 40 dae daarna het Hy Homself lewend vertoon aan honderde mense, en toe opgevaar na die hemel, om tien dae later, die Heilige Gees te gee en uit te stort op al Sy volgelinge, sodat hulle in Sy Naam oor Hom kon getuig en God gebruik kon word.

Weet jy dat daar meer oor Jesus en sy lewe hier op aarde as historiese persoon geskrywe is in buite-Bybelse bronne, as wat daar oor mense soos Julius Caesar, Aristoteles, Alexander die Grootte, of Napoleon Bonaparte, in die geskiedenisboeke van die wêreld staan? Ja, ons kan oor Jesus van Nasaret, in buite-bybelse bronne, meer as 10 000 keer lees.

Met ander woorde, oor die vraag of Jesus werklik geleef het, kan ʼn mens wat werklik moeite doen, geen twyfel hê nie.

Die volgende vraag is dan: Hoe weet ons Jesus werklik die Een was? Hoe weet ons Jesus was wie Hy self gesê het Hy is, en wat al die miljoene van Sy volgelinge vandag steeds oor Hom glo?

Dit is een van die belangrikste vrae wat ek en jy vir onsself moet beantwoord. Laat ek probeer om jou my antwoord op hierdie vraag te gee.

Ek het gesê dat die hele Bybel, al 66 boeke van die Bybel, en selfs die 39 boeke van die Ou Testament, almal opgesom kan word in een woord, naamlik die naam van Jesus. In die Ou Testament word Hy egter nie Jesus genoem nie, maar Messias, die Gesalfde, God wat ʼn mens word en tussen ons op aarde kom woon.

In die Ou Testament kry ons 322 verse wat Messiaanse profesieë genoem word, waarin daar oor die koms en die lewe van hierdie Messias of Gesalfde Koning vooruit geprofeteer word.

J. John, 'n bekende evangelis, predikant, spreker, uitsaaier en skrywer, het die volgende storie in hierdie verband vertel:

Hy vertel hoe hy vir een van sy Joodse rabbi-vriende gevra het om saam met  hom een oggend in 'n koffiewinkel deur al hierdie Messiaanse profesieë te lees.

Na dit, vra J John hom toe: Herinner elkeen van hierdie 322 profesieë jou aan iemand?

Hoe merkwaardig is dit nie dat ons dan nie anders kan as om raak te sien hoe hierdie 332 profesieë, tot op ʼn letter en in die fynste detail hierdie Messias beskryf: Waar Hy gebore sou word, in watter gebied Sy ouers sou lewe, en ja, selfs hoe Hy sal sterf, en selfs die presiese aantal muntstukke wat gebruik is om te betaal vir Sy verraaier.

Besef jy werklik hoe merkwaardig dit alles is?

Weet jy wat is die wiskundige waarskynlikheid dat 322 profesieë, in een man se lewe hier op aarde, presies en in die fynste detail beskryf en geprofeteer word in 39 boeke wat oor meer as ʼn 1000 jaar, presies soos dit geprofeteer is?

Die waarskynlikheid dat dit alles so sou gebeur, is 1 uit 10⁸⁴— dit is 1 gevolg deur 84 nulle!

Met ander woorde, om dit sagkens te stel, dit gebeur nie elke dag nie!