Ek is ’n Christen omdat wat God belowe en sê, werk!

Soos ek reeds gesê het: Ek het gekies om ’n Christen en volgeling van Jesus te wees.

Ek is ’n Christen omdat ek glo dat Jesus die Messias is van wie die hele Ou Testament profeteer het, en dat Hy ook vir my gesterf het en ook uit die dood opgestaan het as die Koning van alle konings. 

Ek is ook ʼn gelowige volgeling van Jesus omdat ek ontdek het hoe nodig ek God se genade en vergifnis het, wat Jesus ook vir my moontlik gemaak het.

Hier is nog ’n rede: Ek is ’n Christen omdat dit werk. Ek het gekies om Jesus te volg, om Sy Woord te glo en te gehoorsaam omdat wat God belowe en sê, werk!

Ons bure langsaan, toe ons nog in Potchefstroom gewoon het, was nie Christene nie. Hulle was Moslems. Vir hulle was ons hulle “bure uit die hemel.”

As daar iemand in ons straat siek was, het hulle ons kom roep en ons gevra om saam met hulle te gaan om vir daardie mense in Jesus se Naam te bid.

Ek is al sedert 1969 ʼn volgeling van Jesus. Daarom het ek wonderlike stories om te vertel van hoe die Here kom ingryp het in ellendige, noodsituasies en alles kom verander het.

Ek kan vertel van mense vir wie ons gebid het, wat die Here dan genees het. Ja, ek kan selfs vertel van mense in fase 4-kanker wat Hy oombliklik genees het.

Ek kan ook vertel van mense met ernstige sigprobleme wat Hy genees het.

Dan kan ek ook vertel van soveel kere in my en ander se lewens, waar dit so nodig was, dat die Here bonatuurlik kom ingryp en oorvloed kom gee.

So kan ek vertel van hoe Hy my kom genees het toe ek besig was om vir 3 jaar dood te gaan aan ʼn siekte waarvoor daar destyds geen oplossing was nie.

So kan ek ook vertel hoe Hy die afgelope 33 jaar reeds elke maand vir ons as gesin finansieel versorg en voorsien het, sonder dat ons ooit in hierdie tyd ʼn vaste salaris gekry het.

Ja, ons is maar net gewone mense wat leef tussen ander gewone mense. Die wêreld en sy mense om ons, is ook maar net gewoon en soms baie stukkend en siek.

Ja, daar kom dae wat ons beslis nie alles verstaan nie en ook nie al die antwoorde het nie. Aan een ding het ons egter nog nooit getwyfel nie: Ons het altyd geweet God is daar. God is in beheer. Hy is goed en aan Sy liefde gaan ek nooit twyfel nie, want ek weet Hy gee om.

Miskien is jy vandag bekommerd oor jou finansies, of oor jou of ʼn geliefde se gesondheid.

Ons gaan daarvoor bid, want Jesus is hier. Hy is die Versorger en Voorsiener. Hy sorg vir ons in alle aspekte van ons mens-wees, na gees, siel en liggaam.

Daarom gaan ons Hom vra en vertrou om herstel te bring, genesing te bring, en te voorsien wat nodig is.

Ek weet Hy hoor.

Voordat ek jou vra om stil te word en te bid vir dit wat jy vir Jesus vandag wil vra, kan ek net weer ʼn keer alles saamvat wat ek as die redes aangevoer het waarom ek en jy so seker kan wees oor wat ons glo as volgelinge van Jesus:

Die rede waarom ek Sy gelowige volgeling is, is omdat…

Ek seker is Hy is presies wie Hy vir ons in Sy Woord gesê het Hy is.

Omdat ek weet en glo dat Jesus die Messias is, God wat mens geword het, om vir my en jou Sy lewe te kom gee en die volle straf wat ons verdien, kom dra het.

Hierdie Jesus is nie net gekruisig nie en het nie net gesterf nie. Nee, Hy het verseker opgestaan uit die dood en Hy is hier as die Lewende, opgestane Here en Koning van alle konings.

Ja, ek weet ek het vergifnis nodig, maar ek weet ook verseker dat Hy juis daarvoor ʼn mens geword het en ook vir my aan die kruis kom sterf het. Sodat die Vader my kan vergewe en sodat Sy genade ook vir my genoeg kan wees.

Ja, ek is ʼn volgeling van Jesus omdat wat God in Sy Woord vir ons belowe en sê, werk!

Dit is van die belangrikste redes waarom ek 'n Christen is.

Met dit alles in gedagte, kom ons buig voor Hom as Koning en Here, en vra vir Hom in gebed wat ons van Hom nodig het.

Kom ons sê ook dan by voorbaat vir Hom dankie dat Hy ons gebede gehoor het.