Is geloof nie maar net ʼn kruk nie?

Daar is mense wat dink dat om in God en in Jesus te glo, net ’n kruk is. So asof om te glo in God eintlik maar net ʼn teken van swakheid is omdat jy nie kan “cope” daarsonder nie.

Wat ek dan vir hulle vra is: "As jy albei jou bene gebreek het, is, het jy ’n rolstoel vir ’n tyd nodig, nê?

Wat die meeste mense dan sou toegee.

Dan sê ek doodgewoon: "En as jy een been gebreek het, het jy krukke nodig, nè?"

Weer sou hulle dan “ja” sê.

Dan sou ek verder verduidelik: Ek het in my lewe ontdek hoe 'n gebroke mens ek voor ’n heilige God is. Dalk sou jy ook, as jy mooi daaroor nadink en bereid is om eerlik te wees, ook dalk moet toegee dat jy nie volmaak is nie en ook maar gebroke is in sekere opsigte.

Ek het nog nooit iemand ontmoet wat nie in die een of ander sin van die woord nie gebroke is nie. Daarom is ek so dankbaar dat ek op Jesus kan leun terwyl Hy my weer heel en gesond maak."

Soos wat ek reeds gesê het: Ek is 'n Christen omdat ek God se genade en Sy vergifnis nodig het. Ek is 'n Christen omdat Jesus iets vir my – en vir jou – gedoen het om ons sonde-skuld te vereffen, maar ook sodat God wat  ʼn Heilige God is, ons genadig kan wees.

Kom ek herinner jou aan die mees bekende vers in die Bybel, aan Johannes 3:16.

Daar staan: “Want so lief het God die wêreld gehad…”

Skryf jou eie naam daar in waar “wêreld” staan.

God het jou so liefgehad dat Hy sy enigste Seun, Jesus, gegee het om ook iets vir jou te kom doen.

So baie mense hou daarvan om ’n kruis om hulle nek te dra, net omdat dit vir hulle mooi is.

Wat hulle nie verstaan nie, is dat die simbool van die kruis eintlik ʼn afskuwelike simbool is as ons mooi daaroor nadink. Die kruis was immers destyds ’n manier waarop die Romeinse owerheid die ergste van misdadigers laat ly het, om so te straf vir hulle misdade, en om hulle dan ook so tereg te stel. Amper soos die galg waar mense gehang word totdat hulle dood is. Omdat hulle dit verdien het.

Vir ons as volgelinge van Jesus, is die kruis die simbool van wat Jesus vir ons kom doen het. Daar het Hy, die totaal Onskuldige, Sy bloed en Sy lewe vir my en jou, wat eintlik die skuldiges is, kom gee. Sodat God ons sondes kon vergewe, want Jesus het klaar die volle prys daarvoor betaal.

Daarom kan God my vryskeld, vergewe, omdat ek glo dat Jesus dit ook vir my gedoen het.

Dit is wat ek op 10 Oktober 1969 persoonlik gekies het om te glo en waarom ek ook Jesus as my Persoonlike Verlosser en Here aangeneem het in geloof.

Daardie dag het ek, soos Johannes 1:12 sê: “Jesus aangeneem”.

Daar het ek gekies om in Hom te glo. Gekies om, op grond van die historiese feite oor wat Hy daar op Golgota in April 30 n.C. gedoen het, Hom aan te neem as my persoonlike Verlosser en Here.

Daardie dag het die Here my wederbaar, nuutgemaak, en my gees kom “reset”.

Daardie dag het iets in my gebeur; is nuwe lewe in my aangeskakel; het God se Gees self in my kom woon, om hierdie werk wat God in my begin het, tot aan die einde van my lewe te voltooi.

Daardie dag is ek ʼn kind van God geword en weet ek, ek sal nie verlore gaan nie, maar ek het die ewige lewe. Omdat God so sê en dit belowe in Sy Woord. In verse soos Joh. 3:16 tot 18, Joh. 1:12, 1 Joh. 5:12 tot 14, ens.

Ons kan nie ons verlede verander nie, maar ons kan ons verlede na God bring en Hy kan ons reinig, skoon maak, vry maak, en ons vergewe.

Kan ek dit alles vir jou opsom?

Waarom het ek gekies om ’n Christen te word en om Jesus aan te neem in geloof as my Verlosser?

Omdat ek vergifnis nodig het.

Omdat Jesus vir my gesterf het om my verlede uit te wis, en my so nuwe lewe vir vandag en hoop vir môre en oormôre te gee.

Om dit alles aan my en jou hart vas te bind, het die Here in die Bybel vir ons al hierdie wonderlike beelde gegee om ons te help verstaan ​​wie Jesus vir ons is en watter verskil om in Hom te glo, in ons lewe kan maak. Hier is ʼn paar voorbeelde hiervan, ten slotte:

• Jesus is die Brood van die Lewe.

• Hy is die Water wat Lewe gee.

• Hy is die Lig van die Wêreld.

• Hy is die Hoeksteen.

• Hy is die Son van Geregtigheid.

• Hy is die Verborge Skat en ʼn Pêrel van Groot waarde. — bankiers kan dit goed verstaan.

• Hy is die Groot Geneesheer.

• Hy is die Goeie Leermeester of Onderwyser.

• Hy is die Lelie van die Veld.

• Hy is die Ewige Rots.

• Hy is die Ware Wynstok.

• Hy is die Regverdige Regter.

• Hy en alles wat Hy ons leer, is werklik Wysheid.

• Hy is die Woord van God.

• Hy is die Goeie Herder.

• Hy is die Alfa en Omega.

• Hy is die Koning van konings.

• Hy is die Weg, die Waarheid, en die Lewe.

Dit alles is wie Jesus is.

Daarom is Hy die Een in wie ek glo en wie ek met my hele lewe vertrou en volg!