Vandag het jy weer ʼn kans om te kies om te glo

Ek het reeds by agt geleenthede met jou gedeel waarom ek so seker is van wat ek glo as ʼn volgeling van Jesus.

As jy nie mooi kan onthou alles wat ek hieroor met jou gedeel het nie, gaan lees dit op my webblad by www.nuwewyn.co.za

Alles wat ek met jou gedeel het, beteken niks as jy nie daarop reageer nie.

As jy nog nooit hierdie keuse gemaak het om Jesus aan te neem as Verlosser en Here nie, dan nooi ek jou uit om dit nou te doen.

Miskien het jy al êrens in jou lewe Jesus aangeneem in geloof as Verlosser. Dan wil ek jou ook daaraan herinner dat Hy nie net Verlosser is nie, maar ook die Here en Koning.

Daarom wil ek jou uitnooi om te kies dat Hy in alle areas van jou lewe en in alle opsigte ook die Here en Koning in jou lewe sal wees.

Vra Sy Gees om die volle beheer in jou lewe oor te neem en jou lewensmotor te bestuur soos en waarheen Hy wil.

Kom ons bid saam hieroor.

Ek gaan dit eers in my eie taal en op my eie manier doen sodat jy dit rustig kan deurlees en die geleentheid kan hê om goed hieroor na te dink. Want dit wat ons hier doen is lewensbelangrik!

Dan nooi ek jou uit om dit hardop in jou eie woorde self vir die Here te sê.

Ja, selfs al het jy dit in die verlede gedoen.

Kom ons bid en herbevestig net weer so ons geloof in Jesus.

Hier is wat ek vandag bid in my gebed:

“Here Jesus, dankie vir dit wat U ook vir my aan die kruis gedoen het. Ek glo dat U ook vir my gesterf het, begrawe is, en weer opgestaan het uit die dood.

Ek kies vandag om U aan te neem in geloof as my Verlosser en Here.

Here Jesus, ek glo dat U God die Seun is wat mens geword het om my straf op U te neem.  

Ek bely dat ek soveel dinge verkeerd gedoen en teen U gesondig het. Vergewe my. Wees my genadig! Bevry my van my sondige verlede. Reinig my lewe.

Ek kies om U lief te hê, te volg en te dien vir die res van my lewe.

Kom deur U Gees en neem die volle beheer in my lewe oor. Vul my met U teenwoordigheid en U krag. Lei my en leer my elke dag. Gebruik my soos en hoe U wil.

Help my om U Woord te gehoorsaam en om dit te bly glo.

Dankie, Jesus, dat U my gebed verhoor.

Amen.”

Wil jy nie nou hardop dit in jou eie woorde vir die Here wat daar by jou is, sê in gebed nie?

Kom ek gee vir jou ʼn kans om te self te doen.

Het jy dit gedoen?

Indien wel, kan ek nou vir jou, ten slotte, bid?

“In die Naam van Jesus Christus, verklaar ek nou dat die Here jou sondes vergewe het. Van hierdie oomblik af, sê God se Woord self vir jou, kan jy weet jy is God se kind.

Mag jy van hierdie oomblik af oral bewyse sien en ervaar dat dit wat jy gebid het, waar geword het in jou lewe.

Mag jy die vrede van die Here as ʼn werklikheid in jou lewe beleef.

Mag jy ontdek dat Sy genade elke dag vir jou genoeg is.

Mag jy Sy beskerming en daar-wees in jou lewe elke dag vasgryp in geloof en daaruit leef.

Daarom seën ek jou nou in die Naam van die Vader, en die Seun, en die Heilige Gees!

Mag jy elke dag bewus wees van Sy teenwoordigheid en genade in jou lewe, as God die Vader, wat ons gemaak het, en as Jesus, God die Seun, wat vir ons gesterf het, en as God die Heilige Gees, wat elke dag in en by jou is.

Weet verseker dat hierdie God se genade elke dag vir jou genoeg is.

Amen.