Dankie dat jy saam met my ’n bietjie nagedink het oor waarom ons so seker kan wees oor wat ons as volgelinge van Jesus Christus glo.
Kan ek jou ’n bietjie uitdaag om verder met my na te dink oor: Ja, ons het gekies om in Jesus Christus te glo en Hom aan te neem as ons Verlosser en Here, maar wat nou verder?
As ’n beginpunt vir ons nadenke, kom ons begin weer by die bekendste verse in die Bybel, by Johannes 3:16.
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Het jy al ʼn bietjie gaan sit en nadink oor wat “ewige lewe” alles sou behels?
Ek het al, en ek wil jou uitnooi om ʼn bietjie saam met my hieroor na te dink.
Kom ons begin by die ooglopende:
In hierdie begrip “ewige lewe”, is daar twee woorde wat elkeen geweldig belangrik is: “Lewe” en “ewige lewe”.
Ek gaan nou vir jou so ʼn paar Skrifgedeeltes aanhaal en ek vertrou dat God se Gees self aan jou lewe en openbaring sal bedien terwyl jy hierdie verse lees.
Maak asb., ʼn bietjie tyd om dit met aandag en gefokus te lees!
“LEWE”
Kom ons begin by die begrip “lewe” en dan spesifiek “lewe” soos dit bedoel is in die begrip “ewige lewe”. Hiervan lees ons op soveel plekke in die Bybel.
Joh 1:4 – “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.”
Joh. 3:14,15 – “Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.”
Joh. 3:36 – “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom."
Joh. 6:35 – “Maar Jesus sê vir hulle: "Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”
Joh. 6:63 – “Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.”
Joh. 10:10 – “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
Joh. 11:25,26 – “Toe sê Jesus vir haar: "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?"
“EWIGE LEWE”
En dan is daar die begrip “ewige lewe”, of anders gestel, ʼn lewe wat nooit ophou nie en vir ewig net aanhou en aanhou.
Ek stel my altyd dit so voor: Kom ons neem ʼn stuk tou van 10 meter land, en stel ons voor dat ons lewe hier op aarde 20 sentimeter van hierdie tou is. Die res stel dan die ander deel van die oneindige, ewige lewe voor waarvan die Bybel in die sin praat.
Hierdie begrip kry ons dan in Skrifgedeeltes soos:
Mark. 10:17 – “Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knie en vra Hom: "Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?"
Mark. 10:29,30 – “Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”
Joh. 3:36 – “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom."
Joh. 4:14 – “...maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee."
Joh. 5:24 "Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”
Joh. 5:39,40 – “Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.”
Joh. 6:27 – “Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen."
Joh. 6:47 - "Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.”
Joh. 10:27,28 – “My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
Spandeer ʼn bietjie tyd aan die voete van Jesus en vra Hom om self met jou uit hierdie Skrifwoorde te praat.