Onthou jy nog hoe ek die Evangelieboodskap aan jou verduidelik het met behulp van ’n A4?
Hier is die video wat ek daaroor gemaak het, se skakel op YOUTUBE:
In Afrikaans: https://youtu.be/HdkMuyRQ5pM?si=QPBW714UlcCmVQbt
En in Engels: https://youtu.be/j1Esf66ke-E?si=p07ZbMVhN6tuqc2z
Ek het jou gewys hoe ’n lewe sonder Jesus “HELL” is, in hierdie lewe en dan ook na hierdie lewe op aarde. Want as jy sou kies om nie Jesus as die Gekruisigde en Verlosser in geloof aanvaar nie, is die “HELL” ’n verskriklike werklikheid na jou dood!
Jesus, God die Seun, is die Beloofde Messias, soos 322 verse reeds in die Ou Testament profeties belowe het.
Hy is ook die finale Pasga-Lam van God, wat Sy lewe en Sy bloed gegee het sodat ’n Heilige God geregverdig kon wees om jou sondes te vergewe en jou vry te spreek.
Deur Jesus in geloof aan te neem as jou Verlosser, beteken dat Hy jou sondes en straf op Hom geneem het, en met Sy lewe en bloed die volle prys ook daarvoor betaal het wat jy eintlik verdien het.
Deur hierdie Evangelieboodskap en Goeie Nuus oor Jesus en wat Hy ook vir jou gedoen het, in geloof te aanvaar, ontvang jy uit God se groot genade die “LIFE”, “lewe en dit in oorvloed” soos Jesus daar in Johannes 10:10b belowe het!
Daarom kan ons op die KRUIS twee woorde skryf: JESUS op die voorkant, en MESSIAS aan die agterkant.
Vandag wil ek jou herinner aan nog ’n rede en nog ’n naam wat die Een wat aan die kruis gehang het, gehad het volgens die Skrif.
Luister ’n bietjie na wat Johannes die Doper oor Hom geprofeteer het:
Joh. 1:29 – “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
En dan in Joh. 1:32-34 – “Ek het duidelik die Gees soos 'n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”
Jesus wat aan die kruis gehang het, was nie net die Beloofde Messias en Verlosser nie! Ja, Hy was die Messias wat gewoon mens geword het en vir 33 jaar hier tussen ons op aarde kom woon het.
Ja, Hy was ook die Een wat as die totaal Onskuldige, Perfekte Lam, Sy Bloed en Sy Lewe gegee het aan die KRUIS om ook jou Verlosser te kan wees. Om ook aan jou ‘LIFE” te gee wat jy vir die res van jou lewe hier op aarde kan beleef en ervaar.
Natuurlik het hierdie “LIFE” nie net vir hierdie stukkie lewe hier op aarde betekenis nie – of dit nou net ʼn lewe van 10 of 90 jaar lank is nie. Nee, hierdie ‘LIFE” is ook “ewige lewe”; is “lewe” wat ook betekenis het en wat ʼn realiteit na hierdie lewe op aarde is.
Jesus het gekom sodat jy aan hierdie kant van die graf, terwyl jy jou 10 of 90 jaar hier op aarde leef, nie net “LIFE” gaan belewe nie. Jy gaan reeds hier op aarde, “LIFE” en dit “in oorvloed” beleef!
Sien, Jesus was nie net die Messias en die Verlosser wat moes kom nie. Hy het ook aan die kruis gesterf om die DOPER MET DIE GEES te wees!
Hy is die Een wat, soos Hy reeds hier op aarde in van Sy laaste boodskappe aan Sy dissipels belowe het, wat die Vader gaan vra om die Gees van die Vader en die Seun, te stuur om in elkeen van Sy gelowige volgelinge te kom woon. Ja, sodat elkeen van Sy volgelinge sal beleef en ervaar God self, Jesus self, is in en by hulle!
Ja, Jesus gaan opvaar hemel toe en ons so vooruit gaan om in die direkte teenwoordigheid van die Vader te wees.
Hy laat ons dus nie as weeskinders agter nie. Hy kom self weer na ons toe om in en by ons elkeen 24/7 te wees. Om Immanuel steeds vir ons te wees. Nie net in die sin van “God is by ons nie”.
Nee, in en deur die koms van God die Gees, gaan Hy nou “Immanuel” wees in die oortreffende trap, as God-by-ons, maar ook nou as God-in-ons!
Natuurlik gaan jy nie net hier op aarde God, as Vader, Seun, en Gees hier op aarde as Immanuel, God-by-jou beleef nie. Jy gaan dit in oortreffende trap, in ʼn perfekte sin, beleef anderkant die graf!
Jy gaan in elke sin van die woord “LIFE” en “dit in oorvloed”, in elke sin van die woord, beleef as jy na die dood, anderkant die graf, as gees-en-siels-mens, “hemel” en God se direkte teenwoordigheid, in en by jou beleef, in die werklike hemel.