Die oomblik wat ons verstaan dat Jesus ook die Doper is met die Gees, verander alles!
Ek verduidelik dit so vir myself met die A4-bladsy-voorbeeld van verlede keer.
Die oomblik wat ek en jy iets verstaan daarvan dat God die Heilige Gees in ons kom woon het as gelowiges, word die “LIFE” wat jy in Jesus ontvang het, ook “lewe in oorvloed”!
Met ander woorde, dit word dan lewe wat baie meer is as net ʼn nuwe lewe en verstaan ons dat hierdie “lewe in oorvloed” ook beslis deel is van wat ons met die begrip “ewige lewe” beskryf!
Kom ons gesels ʼn bietjie hieroor met behulp van ons A4-bladsy illustrasie van verlede keer.
Prentjie Nr 1
Onthou, die KRUIS is ons simbool vir die koms van Jesus, Sy lewe, Sy kruisiging, Sy opstanding en alles wat dit verteenwoordig.
Daarenteen is die woord “HELL” ʼn lewe sonder God, in sonde, waarin ʼn mens ongehoorsaam aan God, Sy bevele en Sy wil illustreer. Daarom is dit ook illustrasie van die eindbestemming van elke mens wat nie glo nie voor en na die koms van Jesus.
“HELL” teken dus vir ons die lewe van elke mens reeds hier op aarde wat doelbewus kies om nie in Jesus as Verlosser en Here, en in die Evangelieboodskap te glo nie.
Maar dit simboliseer ook die eindbestemming en verskriklike uiteinde van elke mens na hulle dood, onder die oordeel van God. Nou is “HELL” egter hierdie plek en toestand waar daar geen greintjie van God se genade en Sy teenwoordigheid is nie! Daarom is dit ʼn plek en toestand waar daar ewig net die ergste pyn, lyding, smart en ellende is.
Prentjie Nr 2
Kom ons sit weer die KRUIS in die middel neer, met alles wat dit simboliseer.
Nou sit ons egter die woord “LIFE” aan die linkerkant neer. Wat dan in Ou Testamentiese terme, ʼn lewe gekenmerk deur gehoorsaamheid aan die Wet, en “dien’ van God in geloof, eerbied en vrees insluit. Die term “WET” of “TORA” beskryf dan hierdie gehoorsaamheid aan die verskillende stukke Ou Testamentiese wetgewing en bepalings.
“WET” beskryf dus dit wat as die “Tien gebooie” bekend staan, maar ook al die ander Ou Testamentiese wetgewing. (Onthou, daar is 613 verskillende stukke Ou Testamentiese wetgewing in totaal, wat onder hierdie term “TORA” val.) Dit sluit sekere kulturele, sosiale en juridiese wetgewing in, soos bv., wette en bepalings oor wat geëet en gedrink mag word, wat aangeraak mag word, aangetrek kan word, asook reëlings wat tydens sekere siektetoestande en selfs tydens menstruasie gegeld het. Dit sluit ook wetgewing en reëlings in oor die verskillende Feeste wat in die tipiese Joodse Jaar plaasvind, van die weeklikse Sabbat, tot al die ander groot feeste.
Dit is ook belangrik om op te merk dat hierdie “LIFE” in die Ou Testament beskryf word as geloof in God, en as gehoorsaamheid en liefde vir Hom en die mense rondom ons elke dag soos God dit uitgespel het.
Alhoewel die Here van Sy mense gehoorsaamheid geëis het, het Hy egter deur die “WET” of TORA-wetgewing, op vele maniere die mens bewus gemaak van hulle onvermoë om ten volle Sy wil en gebooie te kan gehoorsaam. Daarom het Hy hulle deur dieselfde “WET” ook heeltyd verseker van Sy genade, geduld en vergifnis wat altyd daar en absoluut noodsaaklik is.
Dit is ook waarom ons deur die hele Ou Testament hierdie enkele frase oor en oor hoor, naamlik dat die God van Israel Homself geopenbaar het as “ʼn goeie God, aan wie se genade en liefde daar geen einde is nie”!
Week na week, tydens elke fees, en in elke offer wat hulle moes bring, word hulle herinner aan hulle eie sondigheid, en onvermoë om onbesproke gehoorsaam aan God se wil te lewe. Maar, aan die anderkant, ook van die Bloed wat daar is om in geloof “vas te gryp” as teken dat God sondes vergewe!
Dan is daar boonop nog die 322 profetiese beloftes oor die Een wat kom, die Messias, wat die finale, perfekte Lam gaan wees om vir hierdie sondes finaal geslag te word en Sy lewe en Sy bloed daarvoor gaan gee.
Na die koms van Jesus teken “LIFE” dan vir ons die lewe van elkeen wat gekies het om te glo in Jesus as die volmaakte Lam wat Sy lewe vir ons en ons sondes kom gee het. Meer nog, nou simboliseer hierdie “LIFE” egter ook die nuutgemaakte, verloste, wedergebore lewe van elke gelowige volgeling van Jesus, in wie God self, deur die Heilige Gees, woon en werk.
Daarom inspireer God die Gees Paulus om te skryf hoe die Heilige Gees nou na die koms van Jesus en die uitstorting van die Gees, die “WET” in elke gelowige se lewe geword het.
God die Gees in ons, is daar om ons te leer wat God se wil is, maar ook ons te heilig en te verander in mense wat weet en leef soos dit God se perfekte wil en plan vir elkeen van hulle is.