Die ekklesia behoort ʼn familie van families gelowiges te wees, maar hoekom lyk dit soos ʼn besigheid?

 

 

 

Onthou jy daardie dag wat Jesus die tempelterrein daar in Jerusalem binnegestap het en links en regs en hot en haar begin slaan het met ʼn sweep wat Hy gevleg het?

Kom ek haal die gedeelte vir jou uit Johannes 2 aan. Onthou egter, dit gaan nie hier vir Jesus oor die gebou nie. Dit gaan oor wat “die huis van die Here” of ekklesia (in Nuwe Testamentiese taal) behels. Ja, dat dit ʼn “huis van gebed” moet wees, waar ʼn ontmoeting, gesprek en ʼn liefdesverhouding tussen God en mens kan gebeur.

Lees nou hierdie gedeelte teen hierdie agtergrond. (Joh. 2:13-23)

“Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan.

Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit.

Toe het Hy met toutjies ʼn sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer.

Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: "Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ʼn besigheidsplek maak nie."

Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: "Die liefde vir u huis verteer my."

Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: "Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?"

Jesus het hulle geantwoord: "Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig."

Die Jode sê toe: "Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?"

Met "hierdie tempel" het Hy egter sy liggaam bedoel.

Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen.”

Ek wonder, as ek soms so sit en luister na hoe gelowiges in “eredienste” van sommige kerke en gemeentes gemelk en gemanipuleer word om te gee en meer te gee, dan wonder ek wat sou Jesus gedoen het as Hy vandag hier sou ingestap het!

Ons kan seker vir dae hieroor gesels oor hoekom dit gedoen word en oor die reg en die verkeerd hiervan.

Hierdie is egter nie die plek daarvoor nie. Ons is immers besig om te gesels oor hoe dit lyk waar die Koninkryk van die hemel hier tussen ons begin deurbreek. En hoe “kerk” of “ekklesia” daarna sou uitsien in hierdie prentjie.

Dit lyk vir my dat dit wat aan geestelike leiers, soos dominees en pastore, voorgehou en geleer word, so ʼn totaal ander prentjie is as wat ons in die Vroeg Christelike gemeentes destyds in die Nuwe Testament gesien het.

Vandag dink baie geestelike leiers dat ʼn “suksesvolle” kerk of gemeente ten minste hulle eie gebou moet hê, veeldoelig en luuks, waar net die beste goed genoeg is. Daar moet ten minste ook ʼn goeie “worship” groep wees, en natuurlik ʼn goeie prediker, want hiersonder, dink die meeste leiers, groei en trek so ʼn gemeente nie die honderde wat nodig is om suksesvol te wees nie! En dit alles kos geld! Daarom moet mense leer om te gee!

Ja, sulke “kerke” of gemeentes sal dan ook honderde duisende rande betaal om sulke “begaafde musiekleiers” en “predikers” VOLTYDS in hulle diens te kan hê, ja, eksklusief, net vir hulle as gemeente!

Hulle toets vir “sukses” sal dan wees dat honderde mense kom en die eredienste bywoon, en dat dit beslis week na week meer en meer sal word!

Vriende, verstaan jy nou waarom die meeste “kerke” of “gemeentes”, ten spyte van al hulle goeie bedoelings, gedwing is om ʼn reuse, suksesvolle besigheid te wees, want hoe anders kan jy “suksesvol” en ʼn “groeiende gemeente” wees!